Die Israelvisie

Wie is die Israelvisie en wat leer sulke mense? Kom saam en leer oor die dwaling wat homself voordoen as die Israelvisie of die Israelhipotese


Image Die Israelvisie

Hulle noem hulself die Israelwaarheid, maar ‘n blinde kan met ‘n stok aanvoel dat hierdie dwaalleer alles behalwe die waarheid is. Die Israelvisie is ‘n dwaling. In tye van swaarkry en in tye van moedeloosheid is mense geneig om meer by dwalings en valse strome aanklank te vind, omdat daardie groepe meestal die Bybel so interpreteer dat dit “belangegroepe” nader lok. So is die huidige politieke klimaat in SA die ideale broeiplek vir die leer van die Israelhipotese onder die Afrikanervolk. Teen die middel vyftigerjare van die vorige eeu was daar reeds meer as 2 miljoen aanhangers van hierdie dwaling wêreldwyd. 

Wie is hulle?

Aanhangers van die soort dwaling is mense wat meestal deel is van die bestaande kerke, maar verkondig hulle leer onderlangs, of stilweg in die gemeentes. Die Israelvisie is ‘n versamelnaam vir ‘n verskeidenheid van groepe, wat die bedenklike leer aanhang dat God se verkiesing beperk is tot sekere volke en rasse en ander volke en rasse uitgesluit is uit die genadeverbond. Hierdie groepe probeer bewys dat hulle direkte afstammelinge van Israel is (die verlore tien stamme), en dat alle ander volke nie deel het aan God se genade nie, en derhalwe nie die ewige lewe kan erf nie. Vraag: Wat is die grondfout wat hierdie dwaling maak? 

Die “Herrenvolk”

Die Israelvisie gaan van die standpunt uit dat God sekere volke op nasionale vlak seën, nie op grond van sy genade of op grond van hulle gehoorsaamheid nie, maar op grond van die afstamming van ‘n sekere uitverkore volk. Gevolglik vind hulle sterk aanklank by mense wat patrioties-gesind is, en antwoorde soek op die verwarde wêreld waarin hulle polities verontreg voel. Die Israelvisie maak daarop aanspraak dat hulle die kern van die Westerse Blanke Protestantse Nasie van vandag is, en dat hulle derhalwe die “Herrenvolk” (die Here se Volk) is. 

Beoordeling: ‘n Valse gerustheid

Verkondigers van die Israelvisie dwaling lê eensydig klem op “race” in plaas van “grace”. Op grond van Mattheus 24:14 glo hulle dat hulle geroep is om hierdie “nuwe” evangelie te verkondig. Hulle meen dat Hab. 1:14-17 direk op hulle van toepassing gemaak word as “jagters en vissers” wat Israel uit hulle skuilplek moet opjaag, dit wil sê Afrikaners bewus maak dat hulle uitverkorenes is omdat hulle deel het aan oer-Israel. Deeglike eksegese toon egter dat hierdie “jagters en vissers” die vyande van Israel was! 

Die oorsprong van die Israelhipotese

Die Israelvisie is afkomstig van die Brits-Israel beweging wat in Brittanje baie mense onder hulle valse leringe meegesleur het. Waar die Brits-Israel beweging vandaan kom en wanneer hulle oorsprong was weet ons nie, maar ons weet dat hulle al etlike eeue bestaan. Hulle het natuurlik hulle eie hipotese vanwaar hulle kom. Ons let daarop:Volgens ‘n ou Ierse oorlewering het ‘n bejaarde profeet eendag voet aan wal gesit in Ierland, en hy was vergesel van ‘n prinses en ‘n geheimsinnige klip. Die Ierse koning Hermon het dadelik verlief geraak op die prinses, en di profeet gaan vra om haar hand. Na baie eeue het die opvolgers van koning Hermon uit die huwelik met die prinses, Skotland en Brittanje verower, en die mag in Brittanje tot vandag toe behou.  Wie was hierdie profeet, en watter klip het hy by hom gehad? Die Brits-Israel beweging sê dit was niemand anders as die profeet Jeremia, wat na die verwoesting van die tempel in 585 vC met koning Sedekia se dogter na Europa gevlug het nie. En die klip was die klip waarop Jakob geslaap het toe hy die droom by Bet El gehad het, en Jeremia het die klip saamgebring, en van hierdie tyd af word die vorste van Engeland op die “verbondsklip” gekroon. Die huis van Dawid regeer dus nou nog in die vorstehuis van Engeland, en alle blankes is afstammelinge van die tien stamme van Israel. Die blanke ras kan nou aanspraak maak op God se beskerming, hulle sal altyd onoorwinlik wees in die oorlog, ryk en welvarend wees. Hierdie standpunte kom natuurlik ooreen met die van die Israelhipotese omdat hulle een en dieselfde wortel het vir die totstandkoming van die dwaalleer. Ons gaan vandag net die Bybel ondersoek vir tekens van wat van die tien stamme van Israel geword het, en of hulle nie dalk regtig nog iewers voortbestaan nie. 

Historiese oorsig oor die Tien Stamme

Om die antwoord op die verdwyning van die tien stamme te soek, moet ons ‘n paar feite in gedagte hou.

  • Lees 2 Kon 17:6 – Die tien stamme is in 722 vC na Assirië weggevoer deur die Assiriërs, wat hulle laat woon het in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan en in die stede van Medië.
  • Die verlof om terug te keer na Israel is eers in 537 vC deur Kores van Persië gegee, sodat Israeliete wat wou terugkeer na Israel na die Assiries-Babiloniese ballingskap vry was om so te maak (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:3; 2:70; Eseg 47:13)
  • Die tien stamme (Noordryk) was dus reeds 200 jaar weg uit hulle land, voordat hulle weer kon terugkeer, terwyl Juda (Suidryk) hoogstens 60 jaar weg was. Daar was nog onder die van Juda mense wat kon onthou hoe die tempel gelyk het (Esra 3:12)
  • Dit is onlogies om te dink dat na 200 jaar van ballingskap, nadat etlike geslagte al in Assirië gebore is, almal sou wou terugkeer na Jerusalem. Hulle het reeds daar wortel geskiet en gevestig.
  • Daar was egter ook van die tien stamme wat teruggekeer het na Israel (Esra 2:59-60). Die ballinge uit Juda sou tog geweet het as hulle deel is van Juda (na 60 jaar), maar die van die Noordryk sou bes moontlik nie kon bewys dat hulle deel van Israel is nie.
  • Esra 2:64 en Nehemia 7:66 stel die getal teruggekeerdes op 42 360, wat baie meer is as wat Juda op daardie stadium kon wees. Ons moet ook onthou al die Jode het nie teruggekeer nie. Baie het agtergebly en ondertrou en is opgeneem in die Babiloniese volk.
  • Die teruggekeerdes word aangespreek as “huis van Israel” (Neh 9:1). Na die ballingskap is 12 bokke volgens die getal van die stamme van Israel geoffer (Esra 6:17)
  • 1 Kron. 9:3 maak melding van die seuns van Efraim en Manasse wat in Jerusalem woon. Dit is na die ballingskap geskryf!
  • Anna, ‘n profetes in Jerusalem in die tyd van Jesus se geboorte is uit die stam van Aser (Luk 2:36)

 Ons kan nou 2 gevolgtrekkings maak:

1)      Dat almal wat teruggekeer het uit die ballingskap die “kinders van Israel” genoem is, soos wat hulle genoem is voor die skeuring van die Ryk na Salomo se dood. Daar was dus ‘n deel van die tien stamme onder hulle. Hulle is dan vandag die moderne Jode.

2)      Die deel van die tien stamme wat nie teruggekeer het nie, is opgeneem in die heidense volke onder wie hulle gewoon het Waar is die tien stamme dan vandag? Nêrens nie.Ons kan hulle nie meer as aparte groep uitwys nie. Die wat nie in ballingskap gegaan het nie, het in elk geval verbaster in Samaria en het die Samaritane gevorm (2 Kon. 17:24) 

Dus

Daar is dus histories en Bybels geen bewys dat die tien stamme van Israel vandag in die Afrikaner of enige ander volk voortleef nie. Elkeen wat in God glo, het deel aan sy volk.

Skrifbeskouing

Die verskynsel dat verskillende gelowiges na dieselfde gedeeltes van die Bybel kyk en verskillende interpretasies daaruit haal, noem ons die Skrifbeskouing van gelowiges.  Die Skrifbeskouing van die Israelhipotese is egter twyfelagtig, omdat hulle net sekere verse met ander vergelyk om op die end ‘n teorie te ontwikkel oor die uitverkiesing van volke wat vreemd aan die Bybel is.

Alhoewel die Ou-Testamentiese profesieë reeds in vervulling gegaan het, is die hoeksteen van dié dwaling die opvatting dat die profesieë van die Ou Testament letterlik in die huidige bedeling (vir hulle) vervul sal word.  Die probleem is dat nêrens in die Bybel word gesê dat die Ou-Testamentiese profesieë op een tydstip letterlik in vervulling sal gaan nie, en ook word daar nie aangedui dat die beloftes aan Israel op enige tydstip aan die Blanke ras oorgedra is nie. Die AP Kerk het alreeds tydens sy derde sinodesitting in 1989 sy kommer oor die Skrifbeskouing van die Israelvisie soos volg uitgespreek: “Die sinode wys die Israelvisie se Skrifhantering af, omdat vanuit ‘n vooropgestelde fundamentalistiese wyse van die Bybel vir ‘n biblisistiese bewysvoering gebruik word onder ‘n skyn van vroomheid en Skrifgetrouheid”. Die aanhangers van die Israelvisie word bitter moeilik oortuig van hulle dwaling, omdat hulle gekondisioneer word om te glo dat hulle interpretasie van die Bybel die waarheid is. Daar kan ook baie moeilik op grond van die Bybelse wetenskap met hulle geredeneer word, want, so sê hulle “die Gees lei alle kinders van die Here, en nie net teoloë nie”.

 Elkeen wat die Here liefhet, kan die Bybel verstaan. Ons moet egter nie so eiewys wees dat ons dink ons is altyd reg, sonder om ons standpunt te toets aan die wetenskap van die Bybel en dié van ander opregte gelowiges deur die eeue nie. Daarom is die belydenisskrifte van ‘n kerk so kosbare skat. Hierin kan ons ons standpunt toets aan dié wat ons voorgegaan het. 

Die Israelvisie se standpunt oor die apokriewe boeke van die Bybel

Iemand wat al met die Israelvisie paaie gekruis het, sal bewus wees daarvan dat hulle groot klem lê op die apokriewe boeke.  

Wat is die apokriewe boeke?

Die woord apokrief is aan die Grieks ontleen en beteken: verborge. Dit word gegee aan ’n aantal geskrifte wat nie in die Hebreeuse Kanon voorkom nie, maar wel in die Septuagint (LXX) en die Vulgaat. Hulle is ook in Luther se Bybelvertaling opgeneem. Die naam apokriewe is deur die kerkvaders gebruik vir boeke wat verborge gehou is, dit is wat aan die openbare gebruik onttrek is, óf omdat hulle van groot waarde was en dus as geheime boeke net aan die ingewydes bekend was, óf omgekeerd omdat hulle minderwaardig geag is. So is daar ’n onderskeid gemaak tussen boeke wat wel en boeke wat nie in die kerklike godsdiensoefeninge voorgelees is nie. Lg. was apokrief. Die Roomse Kerk noem dié boeke nie apokriewe nie, maar deuterokanoniek of 2de kanon. In hul aanvaarding van die boeke as deuterokanoniek, volg hulle die kerkvader Augustinus (384–430) na. Die kerk van die Hervorming het na die standpunt van Hieronymus (348–420), die outeur van die Vulgaat, teruggekeer. Die apokriewe is ook in die State vertaling opgeneem, maar dan agter die boeke van die N.T. en daarvan geskei d.m.v. ’n aantal skoon bladsye. Dit word ook voorafgegaan deur ’n waarskuwing aan die leser. Die apokriewe is nie deel van die Heilige Skrif nie, omdat daarin nie gemeld word dat hulle die Woord van die Here is nie, die inhoud dikwels teenstrydig is met wat die Heilige Skrif leer en omdat die Here Jesus nie oor dié boeke praat nie, maar wel aanhaal uit die boeke van die Hebreeuse Ou Testament. Buitendien blyk dit uit Luk. 11:51 en 24:44 dat die Here Jesus, alhoewel hy die LXX geken en gebruik het, hom slegs beroep het op die Hebreeuse Ou Testament, waarin die apokriewe boeke ontbreek. Naas die apokriewe boeke van die O.T. bestaan daar ook apokriewe geskrifte rondom die N.T. Daaronder word geskrifte oor of om Jesus en figure uit die apostoliese tyd verstaan wat in latere eeue as aanvulling geskryf is by onvoldoende mededelings in die N.T. Vroom fantasieë wat nie genoeg uit die Skrif kon put nie, of meer besonderhede wou hê oor dit wat in die Skrif meegedeel is; begeertes om eie opvattings onder die naam van die apostels te laat inslag vind, het ’n groot rol gespeel in die ontstaan van dié apokriewe geskrifte. Mense het begeer om te weet hoe die jeug van Jesus was; hoe die verlore brief aan Laodicéa gelui het; wat die apostels nog gedoen het behalwe dit wat oor party van hulle in die Handelinge vertel word; toekomsverwagting en askese het hulle van dié middel voorsien om vir hul eie tyd te preek. Dié apokriewe geskrifte het veral sedert die 4de eeu, spesifiek gedurende die Middeleeue, ’n geweldige invloed gehad.

Wat leer die Nuwe Testament? 

In die Nuwe Testament leer ons dat God die Jode as uitverkore volk verwerp, omdat hulle die Messias verwerp het, en dat Hy die nuwe Israel uitkies. Dit is hulle wat nie aan ‘n sekere volk behoort nie, maar aan God behoort deur geloof in Christus (Rom. 2:11,28-29; 5:1; 9:1-5; 11:1-2a,7; Gal.3:7,26). Sigbaar is daar nog verskille tussen hulle: hulle leef nog steeds in verskillende tydvakke; hulle leef nog steeds verwyder deur landsgrense van mekaar, verskil in kultuur, taal, ras, volk en behoeftes. Maar onsigbaar behoort hulle almal aan die Here (Ef. 4). Dit is die verskil tussen die sigbare en die onsigbare kerk. Alhoewel sigbare eenheid op sig self nie sonde is nie, is die bedoeling van die Bybel nie om die verskille op te hef ter wille van sigbare eenheid nie (‘n man word mos nie ‘n vrou as hy tot bekering kom nie, net so verander die mens mos nie van volk as hy in Christus glo nie). Die verskille staan egter nie in die pad van onsigbare eenheid nie.

Samevatting

Die Israelvisie verkondig dus ‘n valse leer wat in stryd is met die leer van die Bybel. Hierdie dwaling moet teëgestaan word, en gelowiges moet baie bedag wees daarop om hulle nie met hierdie mense op te hou nie. Die Israelvisie moet nie as ‘n Christelike sekte beskou word nie, maar as ‘n valse godsdiens wat die genade van ons Here Jesus Christus verwerp.