Waarom laat God lyding toe?

 

Selfs gelowige mense het helaas soms probleme met die belydenis dat God Almagtig is. Dit is veral in tye van swaarkry dat daar dikwels vrae bestaan oor God se almag. “As God dan almagtig is,” vra mense “waarom keer Hy nie die kwaad nie?” Waarom laat Hy dan toe dat daar daar soveel misdaad is? Waarom laat Hy toe dat mense aan die verskriklikste siektes sterf? Waarom laat Hy mense dan nie gewoon in Hom glo nie?”

Waar kom onregverdige lyding vandaan?

Almal wat hulle midde-in ‘n krisis of beproewing bevind vra dié vraag. WAAROM LAAT GOD LYDING TOE?

Eerstens is onregverdige lyding die direkte oorsaak van die sondeval. Die sondeval bring mee dat mense immoreel optree teenoor mekaar (Kaïn se moord op Abel (Gen 4) is die eerste instansie daarvan). Die erfsonde het egter ook verdere implikasies. Die hele skepping, soos Paulus in Romeine 8 argumenteer, word verdoem tot lyding en kwaad. Dat daar kwaad en lyding in die wêreld is, is die gevolg van mense se ongehoorsaamheid en God se straf op hul ongehoorsaamheid (Augustinus).

Wat die Bybel betref, kan daar dus geen twyfel daaroor wees nie dat ’n baie groot deel van die lyding wat ons as mense ken, ons eie verantwoordelikheid is. Dis menslike onverantwoordelikheid wat uitloop op die meeste motorongelukke. Armoede is soms die gevolg

van menslike luiheid en versuim, maar dis meer dikwels ook die gevolg van menslike selfsug en ’n gebrek aan betrokkenheid by medemense in nood. Daar is selfs talle siektes, soos longkanker wat in die meeste gevalle (hoewel nie altyd nie!) die gevolg is van onverantwoordelike gewoontes, soos om te rook. Immorele gedrag is verantwoordelik vir die meerderheid MIV-infeksies in ons tyd. Baie van die lyding wat ons sien en beleef vind dus plaas omdat sekere mense onpeilbaar boos is en geen perke ken in hul haat vir medemense nie. Die misdaad en die moorde wat ons in ons eie land ken, is die gevolg van sonde. Hierdie kwaad, soos alle ander vorme van morele kwaad en die lyding wat dit meebring, is in beginsel vermybaar as ons anders, minder selfgesentreerd, minder ondeurdag, minder haatdraend en meer konsidererend, respekvol en verantwoordelik teenoor ander sou optree.

Nie alle lyding is mensgemaak nie, soos aardbewings of ander natuurrampe. Hierop gee die Bybel  (Rom. 8) ook ‘n antwoord: alles is aan die verganklikheid onderworpe en daarom moet ons bewus wees dat ook die natuur sy volmaaktheid verloor het, en agteruitgaan. Dit loop uit op rampe.

Die oorsaak van die lyding lê in die verganklikheid van die natuur. Alles vergaan (Rom. 8 vers 21-22). Selfs die skepping word gefrustreer deur die lyding van die verganklikheid (vers 20), maar het die hoop dat alles nuut gemaak sal word. Dis waarom die skepping met reikhalsende verlange uitsien na die openbaarmaking van die kinders van God, want ter wille van daardie kinders sal ook die skepping die nuutmakende werking van God ervaar.

God laat nie sonde ongestraf nie. Menslike lyding as gevolg van die toedoen van ‘n mens sal deur God gestraf word. Misdaad en moorde is die gevolg van die sonde, en dit sal gestraf word. Die troos van Rom. 8 is: Hoop wat gesien word is nie hoop nie, want wat ons sien hoef ons nie te hoop nie (vers 24). Ons het dus die troos dat alle verganklikheid eendag opgehef sal word, en dat ons deel in die onverganklikheid deur Christus se lyding. Selfs Christus het gely en daarom moet on sweet dat die mens nooit van lyding vrygestel word nie. Die troos is egter dat hierdie lyding nie vir ewig duur nie.

Ons het gesien dat pyn en beproewing ‘n onvermydelike deel van die lewe van elke Christen is; dit is trouens ‘n wanopvatting dat dit altyd voor die wind met Christene moet gaan. Almal wat hulle midde-in ‘n krisis of beproewing bevind vra dié vraag. WAAROM LAAT GOD LYDING TOE? Die Woord lei ons om lyding en teëspoed vanuit God se perspektief te sien: dat hulle wat kwaad doen gestraf sal word, omdat sonde opstand teen God is. Vir ons wat dikwels onregverdig ly, wys die Woord dat lyding die verganklikheid van hierdie wêreld beklemtoon. Lyding, so leer Romeine 8, het ook ‘n suiwerende, slypende effek op ons geloof. Dit leer ons bid. Dit leer ons afhanklikheid van God. Dit leer ons: daar sal eendag ‘n nuwe begin wees. So verstaan ons nie net die oorsprong van lyding nie, maar help ons om lyding te verduur in die hoop dat ook dit sal verbygaan. Dit help ons om verder om mensgemaakte lyding teen te staan omdat dit teen God se wil is, en verplig ons om sorg te dra dat jy self nie die oorsaak van lyding is nie.

Hoe moet ons iemand antwoord wie se kind vermoor is, of wie se vrou verkrag is?  Of sy/haar werk verloor? En vra: Waarom laat ‘n God van liefde dit toe? Die antwoord: So iets is nie God se wil nie. God laat dit wel toe (dit is in sy Raadsbesluit), maar God is nie verantwoordelik vir die kwaad, of die outeur van die sonde of Een wat mense versoek nie (Jakobus 1:13).

As ons kom by die lyding is dit al wat ons kan sê: Ons weet dat vir hulle wat God liefhet alles ten goede meewerk. Ook al lyk dit hoe onverstaanbaar en ellendig. Hierdie belofte het ons van God dat dit ten goede meewerk. In die HK word gevra: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? Dan sê die geloofsantwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Wie nie regverdig is nie sal sy verdiende loon kry, maar die regverdige sal deur die geloof lewe.

Ongelowiges doen alles in hul vermoë om teen God se wil te rebelleer. Hulle sal hulle straf dra. En vir ons wat daaronder ly kom Romeine 8 met die antwoord: ook dit gaan verby, en sien ons uit na die openbaarmaking van die kinders van God. Ons sien: ‘n groot persentasie van die lyding wat ons beleef, kom vanuit die menslike selfsug en sonde. Hierdie lyding moet ons teëstaan en uit die samelewing en my eie lewe uitwerk.