Kennis teenoor vertroue, of kennis en vertroue?

Begryp wat die Woord sê oor…Kennis

 

Ons leef in ‘n tyd wat gekenmerk word aan die ontwikkeling en uitbreiding van menslike kennis. Op alle terreine van die wetenskap word kennis teen ‘n fenomenale tempo en volume versamel en verwerk. In die proses van die verstaan van hierdie verworwe kennis word hoë eise aan die mens gestel. Ons moet deesdae op die gebied van die tegnologie moeite doen om by te hou met die veranderinge.
Dis seker een van die redes waarom ons so bietjie geïrriteerd voel as die kerk met ons praat oor kennis en ons verantwoordelikheid om die kennis te koester. Ons hoor lidmate kla: in die kerk wil ons kom rus, nie werk nie. Ons wil kom voete afkoel na ‘n lang week se geswoeg en gesweet. Ons wil verstaanbare dinge hoor en nie moeite doen om te veel te moet dink nie. Juis om hierdie rede word daar soms vandag deur sommige kerke selfs minagtend gepraat oor die insameling van Bybelse kennis (die kognitiewe aspek van die geloof), asof dit nie regtig belangrik sou wees nie: die Heilige Gees lei mens mos!
Dis vir ons egter belangrik om te begryp dat die Woord van die Here baie te sê het oor die insameling van Goddelike kennis, en die oordra daarvan aan ons kinders en dié wat nie weet nie.

Die oorbeklemtoning van kennis onder die gnostici in die eerste drie eeu na Christus
Volgens die Griekse filosoof Plato is die mens se liggaam ‘n tronk waarin die siel vasgevang word en smag na bevryding. Die neo-platonisme (‘n latere wysiging aan die gedagtegang van die platonisme) gemeng met die filosofie van die wysheid was ‘n groot probleem vir die jong Christelike kerk in die eerste drie eeue. Hierdie “mengproses” het plaasgevind by een van die bekende skole van die tyd: die skool van Aleksandrië, en staan teen die helfte van die tweede eeu na Christus bekend as die gnostici (Gr. gnōsis = kennis). Volgens die gnostiek is die mens wesens-verwant aan die hoogste Goddelike wese (God): die mens is ‘n vonk wat van die hemelse lig afgespat het. Vir die gnostici het verlossing beteken dat die mens uit die “gevangenis” van die aardse liggaam bevry word en homself oprig in die rigting van sy/haar herkoms (die hemel), deur middel van die mistieke kennis van God.
In die verklaring van dié heidense gedagtegang is die mens eerder die slagoffer as die outeur van die sonde, en is hy/sy vervolgens in ‘n aardse ballingskap (die liggaam) vasgevang. Die mens is dus nie in sy natuur geneig tot die sonde nie, eerder tot die goeie: die mens is nie verantwoordelik vir die onreg nie, maar eerder slagoffer. Om van die aardse te ontsnap, het God aan die mens insig (kennis) gegee. Die gnostici verabsoluteer dus die menslike rede en kennis, asof dit tot saligheid lei.
Dit was in die lig van die Christendom se polemiek teen die dwaalleer van die gnostieke dat sommige van die vroeë kerkvaders kennis en vertroue téénoor mekaar gestel het (soos bv. Barnabas, Rufinus, Theodosius en Chrysostomos). Hulle wys op die behoefte aan kennis, maar stel dit onomwonde dat kennis sonder vertroue niks werd is nie. Hulle meen die Woord noem wel vertroue en geloof in dieselfde asem (Heb. 11:1), maar nie kennis en geloof nie. Dit wil dus op sig waarde lyk of genoemde kerkvaders kennis as minder belangrik ag (seker in teenreaksie op die gnostici se verabsolutering van kennis).
Dit was veral die geskrifte van die leerling van Polukarpus van Smirna, die kerkvader Irenaeus, wat die Christendom ‘n Bybelse perspektief op die kennis van God kom gee het deur die heilsgeskiedenis in regte perspektief te kom stel. Irenaeus leer dat kennis van God binne die heilshistoriese raamwerk van die verbond van God verstaan moet word, en vervolgens noodsaaklik is, want wie kan in God glo as hy God nie ken nie?

Kennis volgens die Skrif
Dis in soortgelyke lig dat ons die oproep tot die verwerwing van kennis binne die Skrif moet benader: om God se wil te gehoorsaam is wysheid en kennis, leer Spreuke 1:7; 9:10. Kennis is dus om te weet: wat wil God hê? God eis van ons gehoorsaamheid. Maar mens kan nie gehoorsaam wees aan God as mens God nie ken nie. Die Skrif praat dikwels oor kennis en gehoorsaamheid in dieselfde verse (Spreuke 19:27; 22:17; 2 Kor. 10:5; Efes. 4:13).
Die Here gee aan ons die opdrag om die kennis aangaande Hom aan ons kinders te leer, sodat hulle ook in dié kennis kan opgroei. Wanneer Israel op die drumpel staan om die beloofde land binne te trek moet die kinders van Israel onderrig word, sodat hulle nie die wonderwerk van die uittog uit die slawehuis sou vergeet nie. In Deuteronomium 6:4-9 word die belangrike riglyne deur God neergelê vir die godsdienstige onderrig van verbondskinders. Die woordjies “jy” en “jou” van vers 4 tot vers 9 maak die opdrag persoonlik van aard. Natuurlik dui dit heel eerstens op die ouers, aan wie die persoonlike onontwykbare opdrag gegee word om self verantwoordelikheid vir die godsdiensonderrig van hul kinders te aanvaar. Maar op die paneel van Deuteronomium 6 se “jy” en “jou” dien ook dominees, verbondsonderrig personeel, ouderlinge, diakens, trouens almal wat op een of ander manier by die godsdienstige vorming van die kerk en in besonder die jeug betrokke is. Die onontwykbare beginsel om die Here se grootheid en werke te verkondig, word voorafgegaan met die herinnering aan diegene wat God ken om te sorg dat ander Hom ook leer ken.

Ten slotte
In die hedendaagse samelewing versamel mense kennis op baie gebiede. Om kennis van God te besit is ‘n voorveronderstelling tot geloof. Miskien moet ons onsself afvra of ons genoeg moeite doen om self kennis van God te versamel, en of ons genoeg doen om ons kinders in hierdie kennis te begelei?