Waarom verskil die datum van paasfees elke jaar?

Hoekom verskil Paasfees se datum elke jaar?

 

 

Paasfees is een van die belangrikste feeste in die Christelike kalender. Dan oordink ons die kruisiging en opstanding van ons Heiland, die Here Jesus Christus.Die paasfees dateer uit die tyd van Israel se uittog uit Egipteland waarvan ons in Eksodus 12 lees. Aanvanklik was hierdie fees as ‘n gesinsgeleentheid gevier, maar later word die fees as ‘n volksfees by die tempel in Jerusalem gevier, met mense wat van vêr gekom het om in Jerusalem te kom aanbid. Die woord pasga is ‘n transkripsie van ‘n Aramese woord, wat in Hebreeus bekend staan as pêsach. Die pasga het die fees van die ongesuurde brode ingelui en is jaarliks deur Israel gevier om die uittog uit Egipte te herdenk. Tydens hierdie fees het hulle ‘n lam geslag en die bloed aan die deurkosyne gesmeer om die dag te herdenk toe God hulle lewens gespaar het, terwyl hy die Egiptenare se eersgeborenes laat sterf het.
Die Jode het die maankalender gevolg en daarom was die stand van die maan bepalend vir die datum van die pasga. Israel het die pasga gevier op die veertiende en vyftiende van die maand Nisan (die huidige Maart/April), ongeag op watter dag dit geval het. Onder die Jode was daar egter verskille oor presies wanneer die paaslam geslag moes word. Sommige het gemeen dit behoort die aand van die veertiende Nisan gevier te word, terwyl ander weer gereken het dit moet op die vyftiende Nisan gebeur. In die Joodse mondelinge tradisie (die Misjna) word hierdie saak haarfyn uitgewerk deur die skole van Shamai en Hillel.
Die eerste Christene het die pasga saam met die Jode gevier (Lk. 22:1,7,8; Mt. 26:2, 6-13; Jn. 11:55). Christus se kruisiging het plaasgevind ten tye van die viering van die Joodse pasga en Hy het op die eerste dag van die week (met ander woorde Sondag) opgestaan (Mk. 16:2; Mt. 28:1; Lk. 24:1; Joh. 20:1). Tydens die viering van die pasga het die kerk egter nie ‘n lam geslag nie, maar Christus as die ware lam van God herdenk wat geslag is ter wille van ons sonde. Christus word dikwels in die Nuwe Testament in die plek van die paaslam geplaas (Jn. 1:17; 1 Kor. 5:7; 1 Pet. 1:19). In die vroeg-Christelike gemeentes was die dag voorafgegaan deur te vas en die Paasfees het gewoonlik begin op die uur van kruisiging, naamlik Vrydagmiddag 3 uur en het geduur tot die uur van opstanding, naamlik dagbreek Sondagoggend.
Omdat die dag van die pasga nie noodwendig op ‘n Vrydag geval het nie, het dit gou reeds gebruik geword om die Vrydag naaste aan die pasga en die Sondag ná die pasga die Christelike paasfees te vier. Alhoewel die kerkvader Eusebius meld dat dit in die jaar 190 na Christus reeds algemene praktyk was vir die Jode en die Christene om paasfees op verskillende tye te vier, het die sinode van Nicea eers in 325 n.C. formeel besluit dat Paasfees altyd op ‘n Sondag gevier moet word.
Ons gebruik nie vandag meer die maankalender soos die Jode nie en derhalwe kan die bepaling van die datum van die paasfees moeilik wees. Om die saak te vergemaklik het die sinode van Nicea tabelle opgestel om die datum van paasfees te bereken. Later is die Gregoriaanse kalender in gebruik geneem en is die kerklike reëling rondom die bepaling van die datum van paasfees soos volg: 21 Maart is die dag en nag ewe lank. Dis ook ‘n datum redelik naby aan die Joodse maand Nisan (afhangend van die stand van die maan). Paasfees val vervolgens op die eerste Sondag wat volg op die eerste volmaan ná 21 Maart. Paasfees kan dus nooit vroeër as 22 Maart wees nie en nooit later as 25 April nie. Volgens hierdie berekening is die grootste aantal dae wat die Christelike paasfees en die Joodse pasga kan verskil 13 dae.