Egiptiese godsdiens in die tyd van Eksodus tot Konings

 

‘n Opsomming van die godsdiens van die Egiptenare in die tyd van die Eksodus-gebeure tot die Koningstydperk

 

Die Egiptenare het geglo in baie gode (panteïsme) en skeppingsfigure. Hulle het ook geglo dat die natuur en die mens so ‘n noue band het, dat die mens die goddelikheid in die natuur moet vereer. In hulle afgodediens was daar meer as 100 gode en godinne.
Een van die bekendste verhale oor die werking van gode in ou Egipte, is die verhaal van Osiris, die prins van die onderwêreld, en man en broer van Isis, die godin van vrugbaarheid en moederskap (sy is die suster-maan, die aarde moeder en skepper van alles). Die verhaal begin by Set, die broer van Osiris, wat op Osiris en op sy vrugbare lande jaloers was. Set het Osiris se liggaamsdele afgekap, en dit oor die hele wêreld verstrooi. Isis en haar suster Neptus het al die stukke bymekaargemaak, en Osiris weer aanmekaargesit met hulle magiese kragte. Maar omdat Osiris nie weer in staat was om soos die ander gode en godinne te leef en te lyk nie, het hy die god van die onderwêreld geword. Osiris word gewoonlik gesien waar hy ‘n drie-puntige vurk vashou (die simbool van koningskap).

‘n Beknopte opsomming van die verskillende gode in die Egiptiese panteïsme word genoem.

Amen / Ammon
Die Egiptiese Ammon se naam beteken die “versteekte”. Hy is die heidense god van die stad Tebes en is gesien as die oergees van die skepping. Hy word op 5 maniere uitgeken naamlik: ‘n man op ‘n troon, ‘n padda-gesig man (skeppingsfiguur), ‘n man met ‘n kobra-kop, ‘n aap, ‘n leeu.
In die twaalfde dinastie is Amen slegs tot by Tebes as godheid erken, maar teen die agttiende dinastie is hy so ver as die Tigris en Eufraat as die “god van die gode” geken. Volgens Budge (1998:20) was Ammon teen dinastie twintig geëer as die “invisible creative power which was the source of all light in heaven, and on the earth and in the great deep, and in the underworld, and which made himself manifest under the form of Ra.” Amen was selfgeskape. Gedurende Israel se slawerny in Egipteland was Ammon deur Egipte erken, saam met
Mut (moeder), wat die Egiptiese argetipe van die moeder-aarde was, en so word hulle vandag nog geëer deur die Wicca (‘n “new pagan religion”, wat klem lê op die wit- en swart magie as die werking van die godheid in die mens.)

Farao (vergoddelikte konings)
Van die vroegste tye was die Farao’s as gode gedien: die seuns van Ra; die seuns van Horus en Amen. Gebede en offers aan die Farao was baie skaars, maar hulle is as godheid gedien in die volkslewe.

 

Geb (Seb)
Die god van die aarde, die seun van Shu en Tefnot, die vader van Osiris. Daar was die opvatting dat die wat Seb nie aanbid nie (m.a.w. die wat nie die aarde as godheid dien nie), deur Seb gevange geneem word, sodat hulle nie die lewe na die dood kan ingaan nie.

 

Horus
Een van die belangrikste gode van Egipte. Hy was “Horus die oudste” en “Horus die kind”. Hy is die god van die Farao vanaf 3000 vC. Horus was gesien as die “een wat was, en is, en sal wees”. Deur die aanbidding en verering van die Farao was hierdie god geëer.

 

Osiris (Ausar)
Die god van die dode, en opstanding in die ewige lewe. Volgens die Egiptiese mitologie het Osiris in die begin oor die heelal geheers, en Ra oor die hemele.
Die god Osiris is in die hele Egipte gedien as die helper van die skeppergod, die middelaar tussen god en mens. Daar is selfs argeologiese bewyse dat Osiris deur die Romeinse keisers as ‘n godheid geëer is, tot so laat as die bestaande era.

 

Ra
Die songod. Die woord “Ra” verwys na die skeppende krag, en na hom is verwys as die “skepper”. Omdat die son ‘n vuur was, volgens die Egiptiese mitologie, en ewig gebrand het, was Ra (die son) die god wat alles geskep het, en waaruit alles voortbestaan. Die Egiptenare, en selfs Wes-Semiete, het van Ra gepraat as:
“Ra netjer-aa neb-pet”- ‘Ra, die groot god, here van die hemel’

 

 

Sobek (Sebek)
Die krokodilgod. Hierdie is ‘n godheid wat van die vroegste tye af as ‘n godheid beskou is, en in verskillende stadia van die geskiedenis verskillende name gehad het, maar die inhoud van die god het konstant gebly.
Hierdie god is tot redelik onlangs nog in die Egiptiese godsdiens aanbid. Tydens die Middeleeue het die verering van hierdie godheid afgeneem, onder die geweldige invloed wat die Christendom (die Rooms-Katolisisme) in die samelewing gehad het. Die Christendom het volgens Budge (1998:46) ‘n “zero tolerance to paganism” gehad. Daar is vandag nog sekere groepe wat hierdie god vereer: onder die “nuwe strominge” in die Westerse wêreld, soos die New Age kultus, en onder die “Neo-paganism” word hierdie god dikwels vereer.
By die Grieke het hy die naam van
Krokodilopolis gehad, en vandag word hy versteek in die Moeder-aarde religieë as die “elemente van die skepping”. Sobek is die god van die 4 elemente: vuur, water, lug en grond, waaruit die skepping dan sy ontstaan te danke sou hê.

 

Shu
Hy is gedien as die god van die atmosfeer en van die droë winde. In droogtetye word aan die god Shu geoffer, sodat hy sy teistering van die mens moet stop, en dit weer kan reën.

 

Samevatting
Die godsdiens van die Egiptenare het ruimte gemaak vir ‘n veelgodedom. Hier was ‘n duidelike animisme (aanbidding van die natuur/natuurkragte) in die mitologie te bespeur.