Enkele belangrike teologiese aspekte in die Markus-evangelie

Enkele belangrike teologiese aspekte in die Markus-evangelie, asook belangrike terme in die boek

 

INLEIDENDE OPMERKINGS

 

Natuurlik kan mens nie van Markus as “teoloog” praat nie, want by hom is daar nie sprake van ‘n formele teologie nie. En tog dra hy ‘n duidelike boodskap oor wat ‘n duidelike koers aandui en Jesus in ‘n bepaalde lig stel. In hierdie opsig kan ons dus wel praat van ‘n “teologie” van Markus.

 

‘n Verdere probleem met betrekking tot die inhoud van Markus se evangelie is die vraag of dit geskiedskrywing of Kerugma (= prediking) behels. Dit is egter nie nodig om hieroor te debatteer nie. Hedendaagse teoloë wil dat daar duidelik onderskei en ‘n keuse gedoen moet word. Ons vra:watter verskil sal dit nou aan die inhoud van die evangelie maak? Sy vertelling van Jesus as die inhoud is tegelyk interpretasie van gebeure, ‘n dramatiese vertelling rondom Jesus as die hoofkarakter.

 

Dat Markus ‘n heel besondere betekenis heg aan die woord “evangelie”, is duidelik. Die woord “evangelie” kom nie minder as sewemaal in Markus voor nie, terwyl dit slegs viermaal by Matthéüs en ook nie in Lukas of Johannes voorkom nie. Daarom is die aanhef van die boek, “(so) begin die evangelie” des te meer opvallend. Die evangelie het by Markus betrekking op die lewe van Jesus, wat deur sy kruisiging en opstanding op aarde heil bewerkstellig het.

 

Een van die sleutelverse is 1:15: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God is op hande: Bekeer julle en glo die evangelie”. Sy prediking kondig ‘n besondere punt in die geskiedenis aan: die tyd is vervul en die koninkryk is in Jesus aanwesig. Jesus se optrede wat na 1:15 vertel word, is die inhoud van die evangelie. In Hom het die heil van God se koninkryk ten volle aangebreek – Jesus Christus is die evangelie.

 

Die teks 8:35 en 10:29 bring dieselfde gedagte na vore, nl. dat Markus die evangelie in Jesus se lewe verteenwoordig sien. Dit word nog duideliker wanneer die parallelle uit Mt. 19:29 en Lk. 18:29 en Mk. 8:35 en 10:29 vergelyk word. Dus vir Markus is Jesus die evangelie, en is Hy verteenwoordiger van die goeie nuus oor die koninkryk van God deur sy lewe. Deur die evangelie is die Here in sy gemeente teenwoordig. Jesus is sowel die een wat die evangelie bring as die evangelie self.

 

MARKUS OOR DIE VERLOSSING VIR DIE HEIDENE

 

Volgens Markus was die heil wat Jesus deur sy woorde en dade gebring het, nie beperk tot die Jode nie. Dit blyk reeds uit die wondervertellinge in hoofstukke 5 en 7 waar daar melding gemaak word van die Geraseners en die inwoners van Dekapolis wat as nie-Jode beskou word. Veral die vertelling oor die Sirofenisiese vrou(7:24-30) maak dit sonder meer duidelik dat die heil ook vir die heidene bedoel was. Die woorde “kinders” en “hondjies” word metafories gebruik met verwysing na Jode en heidene respektiewelik. Die vrou kry die versekering dat die heil ook vir die heidene bedoel is.

 

Die aanhaling van die OT in 11:17, “My huis moet ‘n huis van gebed genoem word vir al die nasies”, in die vertelling van die reiniging van die tempel, verwys verder duidelik na die nuwe toekoms wat Jesus vir alle mense daargestel het. Dit geld ook van Jesus se uitsprake in 13:10 en 14:9.

 

Markus het die heil wat Jesus deur woord en daad gebring het, nie tot die Jode beperk nie. Dit is trouens ‘n heiden wat by die kruis uitroep dat Hy waarlik die Seun van God is.

 

 

MARKUS OOR DIE LYDENSGESKIEDENIS

 

Die rol van Johannes die Doper

 

Markus het met sy vertelling oor Jesus as Seun van God sterk klem laat val op die lydende Seun van God wat aan die koninkryk van God ‘n nuwe dimensie kom gee het, en dit is veral die funksie van Johannes die Doper om die boodskap duidelik te illustreer. Johannes die Doper is die geprofeteerde voorloper van Jesus wat moes ly. Hy is die voorloper van die nuwe koninkryk.

 

Die funksie van die vertelling oor Johannes die Doper se dood in 6:14-29 is waarskynlik gerig op die parallel tussen die lyding van Johannes en die lyding van Jesus. Die opbou van hierdie vertelling is opmerklik en waarskynlik ‘n doelbewuste poging om die lyding van Johannes met die lyding van Jesus in verband te bring. Die vertelling begin met die ontsteltenis van Herodes oor die moontlikheid dat Johannes opgestaan het en eers daarna word vertel hoe Johannes onthoof is. Sinspeel hierdie verwysing na die “opstanding” van Johannes moontlik op die opstanding van Jesus? Die feit dat Johannes volgens sommige Elia was, wat weer lewendig geword het, het bepaald die funksie op die lyding van Johannes en die lyding van Jesus in verband te bring (vgl. 9:12), veral as daar in gedagte gehou word dat die Elia redivivus ‘n lydende figuur was. Daar bestaan ook parallelle tussen die vertelling oor Johannes se dood en die verhoor van Jesus. Soos Johannes gely het, so sal Jesus ook ly.

 

Die rol van die Lydens- en opstandingsvoorspellings

 

Reeds in Mk. 10:32-34 word in ‘n neutedop saamgevat die verskillende momente van die lydensverhaal soos in 14:46-16:8 breedvoerig beskryf word (aldus Klostermann). Markus wou aantoon dat die weg van Jesus ‘n weg van lyding is deur die dood na die opstanding. Dit is die sentrale gedagte wat Markus wou uitlig en dit word reeds aan die inhoud van die voorspellings maar ook aan die materiaal wat rondom die voorspellings (8:31; 9:31 en 10:32-34) ingeweef is, gesien. Petrus se belydenis dat Jesus die Christus is, is van belang maar hierdie Messiasskap van Jesus moet reg verstaan word. Petrus se onvermoë om dit te verstaan, bring die voorspelling in 8:31 in die regte perspektief. Dit staan uit as aanduiding van die weg wat die Messias – Seun van die Mens – moet gaan. Dit het selfs implikasies vir die navolging van Jesus (vgl. 8:34-38).

 

‘n Laaste aspek van die teologie van Markus wat uit die voorspellings in hulle verband met die lydensgeskiedenis benadruk word, is die wil van God. In ooreenstemming met die wil van God moes die Seun van die Mens ly. Die “moet” in 8:31 in samehang met die res van die evangelie (vgl. 14:21) benadruk die boodskap van Markus. Jesus moes, omdat God dit so gewil het, ly. Dat Hy deur mense om die lewe gebring is, staan in diens van die wil van God en kanselleer nie die wil van God uit nie.

 

 

Wat leer Markus oor Christus?

 

Markus gebruik die Ou Testament (OT)

 

Dit is van die begin van sy evangelie af duidelik dat Markus die agtergrond vir baie van sy gedagtes in die OT vind. So bv. In die lydensgeskiedenis word die OT aangehaal (o.a. 14:62). Dit is egter veral in die vertelling van die kruisiging waar die Ou Testamentiese agtergrond deurskemer en ‘n raamwerk skep waarbinne Markus die kruisiging verstaan het en sy boodskap wou deurgee.

 

Dit is opmerklik dat dit juis die klaagpsalms is wat hier as agtergrond dien. Maar dit is te verstane aangesien dit klaagliedere van ‘n regverdige in lyding is. En dit is juis een van die aspekte wat Markus in sy teologie beklemtoon nl. dat Jesus as Seun van God, as regverdige moes ly.

 

Die OT as agtergrond onderstreep ook die gedagte dat die dood van Jesus in ooreenstemming met die wil van God was, dit is in ooreenstemming met die Skrifte.

 

Teoloë soos Bultmann, Schreiber en Vielhauer probeer Markus se Christologie stel teenoor of ‘n Hellenistiese kerugma van Christus wat bedoel is om Hom te romantiseer en te verheerlik, of om in die agtergrond ‘n gnostiese mite te vind, of ‘n Egiptiese troonbestygingsrite as model te gebruik. Alles berus egter op blote spekulasie.

Belangriker egter is die bewering van ‘n groep teoloë wat in Suid-Afrika heelwat veld gewen het(o.a. Martin, Perrin, Schenke, E Schweitzer en Weeden), dat Markus ‘n sogenaamde valse Christologie met sy evangelie probeer bestry het. Markus veronderstel ‘n situasie waarin daar ‘n groep persone was wat ‘n valse Christologie begin propageer het, en Markus bestry hierdie dwaling deur sy eie Christologie. Sonder om op besonderhede in te gaan kan ons volstaan deur te sê dat ons hier met spekulasie en hipoteses te doen het wat myns isniens geen werklike gronde het nie.

 

Markus se vertelling oor Jesus die Seun van God, handel juis oor die Jesus wat met gesag opgetree het, wonders kan doen, maar wat tog as lydende Messias uit die stryd tree met sy kruisiging en opstanding.

 

Die Jesus van Markus het baie gesigte. Hy is die Seun van God, uit die hemel aangekondig, wat moet ly. Hy is egter ook die Seun van die Mens wat met gesag op aarde opgetree het, met gesag sal optree by die eindoordeel en ook die Seun van die Mens wat moes ly en opstaan. Hy is ook die Christus, maar nie die Christus wat Petrus gedink het Hy is nie. Hierdie drie gesigte beeld maar net die verskeidenheid maniere uit waarop Markus sy Christologie in sy evangelie voorstel. En die slotsom van Markus is dan dat die Seun van God, die Seun van die Mens, Jesus die Christus moes ly, en so is Hy die evangelie.

 

Die “Messiasgeheim” in Markus

 

Die teoloog, Wilhelm Wrede, het aan die begin van die vorige eeu gekom met die teorie dat Markus die feit dat Jesus die Messias was, ‘n geheim probeer hou het. So word die demone wat Jesus herken het, beveel om te swyg oor sy identiteit (1:23-25; 1:34; 3:11-12) en mense wat deur Jesus gesond gemaak is, word beveel om daaroor te swyg (1:44; 5:43;7:36). Markus wys verder op die dissipels se onvermoë om te begryp wie Hy is ondanks die feit dat Hy reeds voor sy opstanding aan hulle geopenbaar het wie Hy is (4:13; 4:40-41; 6:50-52; 7:17 vv; 8:16-21 en 9:6,10). Verder sou Jesus Hom onttrek het in afsondering en “geheime” inligting oor sy Messiasskap en die koninkryk van God aan sy dissipels verskaf het (4:10-13, 33-34). Die rede vir hierdie geheimhouding was volgens Wrede die taak wat Markus gehad het om tradisies waarvolgens Jesus tydens sy aardse lewe nie as Messias beskou is nie, te versoen met die Messiaanse tradisies oor Hom na sy opstanding. Om dit te bewerkstellig het hy die Messiasgeheim soos hierbo omskryf as teologiese konstruksie ontwerp. Dit sou verklaar waarom Jesus eers na sy opstanding as Messias bely is. Wrede se interpretasie word nie meer vandag aanvaar nie.

 

Ebeling het in 1938 probeer aantoon dat die evangelie nie ‘n geheimnismotief veronderstel nie. Die swygbevel, die onvermoë van die dissipels om te verstaan en die sogenaamde gelykenisteorie van 4:10 is nie bedoel om te verberg nie maar om te openbaar. Dit is ‘n literêre tegniek wat Markus gebruik het om seker te maak dat die leser sal begryp wie Jesus is.

 

Wat wel duidelik is, is dat Markus met die wyse waarop hy sy vertelling ingerig het, ‘n boodskap in verband met Jesus die Seun van God deurgee. In hierdie boodskap speel die lyding, dood en opstanding ‘n deurslaggewende rol. Dit is eers na sy dood dat daar waarlik begryp kan word dat en hoe Hy seun van God is. Sy opstanding is die rede waarom Hy as lydende Messias, seun van God is.

 

Die gebeure wat die kruisiging voorafgaan en die wat daarop volg, nl. die duisternis wat oor die aarde gekom het (15:33) en die skeur van die voorhangsel in die tempel (15:38), word geinterpreteer as gerig en skepping van ‘n nuwe lewensbedeling. Die duisternis wat in aansluiting by Amos 8:9 die kosmiese gerig van God aandui, teken met ‘n apokaliptiese beeld die radikale van die gebeure en net so radikaal is die skeur van die voorhangsel. Jesus se uitroep van God-verlatenheid, laat duisternis kom oor die aarde en word daar nou ‘n einde gemaak aan die bedeling waarin die tempel so ‘n groot rol in die Joodse godsdiens gespeel het. Die toegang tot die allerheiligste, en direk tot by God volgens die opvatting van die Jode, is deur die sterwe van Jesus aan die kruis bewerkstellig.

 

Dat daar nou ‘n nuwe bedeling volg, word nie slegs deur die oordeel oor die tempel aangedui nie, maar deur die Romeinse hoofman wat direk nadat Jesus gesterf het, uitroep: “Waarlik Hy was die Seun van God” (15:39). ‘n Buitestaander, heiden, kondig aan wat “werklik” gebeur het. So noodlottig as wat die gebeure skynbaar afgeloop het, so radikaal nuut begin die lewe met die soldaat se belydenis.

 

Markus se evangelie is die resultaat van ‘n fyn deurdagte plan. Hy het met behulp van sy evangelie ‘n boodskap oor Jesus se lewe en lyding, oor die koninkryk van God, wou deurgee: “Waarlik Hy was die Seun van God”.

_______________________________________________________________

Hierdie is ‘n verwerking van Vorster se teologie van Markus (in: Handleiding by die Nuwe Testament, band 4)