Enkele belangrike teologiese terme by Mattheus

Belangrike teologiese terme by Mattheus

 

 

Inleiding

 

Vroeër is die Sinoptici (Mattheus, MArkus en Lukas) as ‘n eenheid geneem vir die doeleindes van die bepaling van die teologie in die geskrifte. Met die herlewing van die Redaktionsgeschicte of redaksie-historiese ondersoeke, word egter al fyner onderskeidings gehandhaaf, en so word dan onderskeidelik ‘n teologie van Matthéüs, Markus en Lukas daargestel.

 

Die slotverse van Matthéüs, nl. 28:18-20, moet as sleutelteks vir die teologie van Matthéüs beskou word. Hoewel sommige die Ekklesiologie (die leer oor die kerk) van Matthéüs as die mees prominente tema beskou, meen ander egter dat sy Christologie (die leer oor Christus) die mees sentrale motief is.

 

MATTHÉÜS SE CHRISTOLOGIE (Die leer oor Christus)

 

Ongeveer 12 tekste kan as vervullingsitate beskou word in Matthéüs (1:23; 2:6, 15, 18, 23; 4:14; 8:17; 12:12; 13:35; 21:5; 26:56 en 27:9). Hiervan is byna die helfte uit Jesaja afkomstig, verder uit Sagaria, Jeremia, Hoséa en Miga. Die verspreiding van die sitate oor die geheel van Matthéüs is ook interessant. Daar is vyf in die voorgeskiedenis (Mt. 1 en 2) terwyl geen vervullingsitaat in die lydensgeskiedenis voorkom nie (hoewel die hele lydensgeskiedenis volgens 26:56 as vervulling van die profesieë gesien word, en in sametrekking van sitate uit Jesaja en Mt. 4-13. Dit is hieruit af te lei dat dit vir Matthéüs gaan om die vervulling van die profesieë in die lewe en werk van Jesus.

 

Christologiese titels kom nie in die vervullingsitate voor nie, maar daar kom ‘n reeks aanduidings van Jesus in die sitate voor, soos Seun (2:15), Kneg (12:18), Nazoraios (2:23), Koning (21:5), Immanuel (1:23), Herder (2:6), Lig (4:16).

 

  • Die naam Seun van God is van besondere belang. In die OT beteken “seun van God” dikwels ‘n verwysing na die koning, engele en Israel as volk. In Matthéüs hou die titel Seun van God en Seun verband met mekaar. Die titel kom 9 keer in Matthéüs voor, 3 keer uit die mond van die duiwel of demone (4:3, 6;8:29), 2 keer as belydenis van die dissipels (14:33 en 16:16), in die mond van die hoëpriester (26:63) en by die kruisiging 2 keer in die mond van die spotters (27:40 en 43), en as belydenis van die hoofman (27:54). Hierbenewens is daar die voorkoms van die “Seun” in 2:15; 3:17 en 17:5; terwyl tekste soos 1:23; 18:20 en 28:16-20 vir die verstaan van die titel in Matthéüs ook van gesondere belang is.
  • Hierdie titel korreleer ook met die besondere rol wat die aanspreekvorm “Vader” in Matthéüs speel. So kom in 11:25-27 en 28:18,19 nie alleen die unieke verhouding van Vader en Seun ter sprake nie, maar ook die gesag wat die Vader aan die Seun gee en waarmee Hy optree. Met hierdie gesag stuur Jesus dan sy dissipels uit. Tipies van Matthéüs is dat dit dan sy dissipels is wat Hom as Seun van God bely (14:33 en 16:16) en wat besef dat God se beloofde eindtyd (eschaton) in Jesus aangebreek het. Maar Israel sien nie in Hom die Seun van God nie en verwerp hom, daarom wag daar ‘n lydensweg vir die Seun. En wanneer Jesus aan die kruis hang, (27:38-54) word Hy drie keer as Seun van God verwerp, maar dan ook as Seun van God deur die hoofman bely. Na sy opstanding kan Hy dan aanspraak maak op alle gesag in hemel en op aarde en dat Hy met sy kerk sal wees (1:23).
  • Die titel “Seun van die Mens” het in Jesus se tyd beslis sekere assosiasies op grond van Dan. 7:13 vv. en die voorkoms daarvan in sekere apokaliptiese geskrifte (Henog en 4 Esra) net eenmaal voorkom (Hand. 7:56), en in die Evangelies steeds net op die lippe van Jesus self. Die titel verwys na drie aspekte van Jesus se optrede: sy nederige lewenswandel; sy lyding, sterwe en opstanding; en sy kom op die wolke. Hierdie titel word in Matthéüs gebruik om Jesus se gesag en outoriteit, wat uiteindelik deur almal erken sal word, te beklemtoon. Hierdie titel word ook telkens gebruik in die aankondiging van sy lyding en sterwe.
  • Seun van Dawid as titel kom elf keer voor in Matthéüs. Hy begin dan ook sy Evangelie met die geslagsregister “van Jesus Christus, die seun van Dawid”. Die 3 x 14 geslagte in die geslagslys in Mt. 1 is waarskynlik ook bedoel om verder op Dawid te sinspeel aangesien die getalwaarde van die naam Dawid in Hebreeus 14 is. Matthéüs gebruik hierdie titel op ‘n heel besondere wyse, nl. as die barmhartige, die Een wat die siekes en ellendiges in hulle nood aansien en genees.
  • Here (kurios) is ‘n titel wat Matthéüs ten opsigte van die aardse Jesus gebruik en wat na sy opstanding en verhoging in die gemeente ingang gevind het. Dit is verder opvallend dat die titel nooit deur Jesus se vyande gebruik word nie, maar dit kom net by die dissipels voor. (Sy vyande noem Hom Rabbi of Meester). Hierdie titel word steeds aanduider van Jesus wat in God se plek kan help en red en met gesag kan optree.
  • Messias/Christus, dit is vir Matthéüs die aanvaarbare benaming vir Jesus, omdat hy oortuig is dat Jesus die Messias, die Christus is. Matthéüs onderstreep op verskillende maniere dat Jesus die vervuller is van die Messiaanse verwagting van die OT. Die titel Christus word deur Matthéüs ook in direkte verband met die titel Seun van God gebring (16:16 en 26:63). Hieruit blyk dat die dissipels se belydenis van Jesus as die Seun van God die ware aard van sy Messiasiteit verwoord.
  • Ander titels, soos “Seun van Abraham”, “Hy wat kom” (ho ergomenos), Herder (poimen), speel in mindere of meerdere mate ‘n rol in Matthéüs. Twee titels wat heel selde voorkom maar tog van betekenis is, is Kneg (2:18) en Immanuel (1:23).
  • Waar die Immanuelgedagte so duidelik aan die slot van Mt. (28:20) weer opgeneem word, sou met reg beweer kan word dat die hele Matthéüs die implikasies van die naam Immanuel wil uitspel.

 

Die Matthéüs-evangelie verkondig Jesus vanuit die perspektief van sy opstanding en verhoging. Steeds word Hy verkondig as die Lewende wat nou die Here is. Tog word bely dat dit die aardse Jesus is wat nou die Here is. Hierdie eenheid tussen die aardse Jesus en die verhoogde Here is van die grootste belang vir die verkondiging.

 

Matthéüs verkondig Jesus as die Seun van God, wat dan as Emmanuel, God met ons, die hele evangelie as’t ware insluit en omraam (1:23; 28:20). Tog is Hy ook die Kurios, wat in erbarming reageer op die hulproep van die ellendige, maar ook die Seun van die Mens wat nou deur lyding heen die versoening bewerk, maar eens as Regter op die wolke sal verskyn. Dit is Hy wat die Messias, die Christus is, die Koning wat geen politieke troonopvolger is nie, maar in wie die Skrif vervul word.

 

 

 

MATTHÉÜS OOR DIE KONINKRYK EN DIE KERK

 

 

Die Koninkryk van die Hemel

 

Tipies van Matthéüs teenoor die ander Evangelies is die koninkryk van die hemele (34 keer) teenoor die koninkryk van God (slegs 3 keer). Kenmerkend van Matthéüs is verder die uitdrukking “die evangelie van die koninkryk” (4:23; 9:35 en 24:14). Jesus bring self hierdie evangelie maar word dan ook self die inhoud daarvan (26:13). Die evangelie van die koninkryk is dus die goeie nuus, die aankondiging aangaande Gods koninkryk wat in Jesus se aankondiging en in Homself ‘n werklikheid geword het.

 

Dit is in Matthéüs duidelik dat God se heerskappy die verset van Satan na vore roep as teenstander van die koninkryk van die hemele. In 12:26 is daar sprake van Satan se koninkryk en uit 25:41 blyk dit dat hy beheer het oor demone en onreine geeste. Belangrik is dan ook die waarskuwing dat Satan in die kerk ook aktief werksaam is.

 

Die Posisie van Israel

 

By die oorweging van die posisie van Israel is dit belangrik om daarop te let dat die verbond steeds op die agtergrond staan.

 

Matthéüs is die enigste Evangelie waarin ons pertinent lees dat Jesus se sending alleen op Israel gerig is (15:24), terwyl by die uitsending van die dissipels dieselfde beperking vir hulle geld (10:5). In Jesus wend God Hom nou juis tot sy verbondsvolk om hulle van hulle sondes te verlos (1:21).

 

Juis daarom is die verwerping van Jesus deur Israel so tragies. Eers is dit die Fariseërs wat Hom skerp afwys, maar aan die einde sluit die volk nou ook aan by die Fariseërs se standpunt en neem die skuld vir Jesus se dood op hulle (27:24-26).

 

Skerper as die ander evangelies beklemtoon Matthéüs die verwerping van Israel deur Jesus. Reeds in 3:10 word hierop gesinspeel, terwyl 8:12; 10:15 en 11;20-24duidelike oordeelsaankondigings bevat. Trouens, die verwerping word redelik eksplisiet gestel in Mt. 11-12.

 

Uit die verwerping van Israel vloei nou voort dat die koninkryk aan ‘n “ander volk” (21:43) gegee word, naamlik die kerk.

 

Op die vraag wat die verhouding tussen die kerk en Israel is, moet ons die saak so verstaan: Dit lyk of Israel in Matthéüs alleen op Israel na die vlees slaan, terwyl daar ‘n bepaalde kontinuïteit tussen die ou verbondsvolk en die kerk lê. Die kerk is nou Jesus se volk, diegene wat Hy rondom Hom en die twaalf leiers van sy volk versamel, hulle in wie se midde Hy sal wees as aanduiding van ‘n nuwe verbondsverhouding.

 

Die Kerk

 

  • Terme

 

Verskeie terme dien in Matthéüs as aanduiding van hulle wat op Jesus se roepstem reageer, Hom navolg en sodoende die kern van die kerk van Christus vorm.

 

  • Dissipel

Mathetes is ‘n belangrike woord wat ook die verhouding van ‘n rabbi en sy leerlinge voor die gees roep. Matthéüs gebruik dissipel/leerling op so ‘n wyse dat dit vanselfsprekend op Jesus se volgelinge dui, maar dan tog ook as verteenwoordigers, voorbeelde van die Christene van die kerk vir wie hy skrywe (12:46-50).

 

Die gelowiges as seuns van God kom by Matthéüs sterk na vore (5:9, 45; 8:12; 13:38 en 17:25).

 

Lede van die gemeente word ook mekaar se broers genoem, en dit sluit aan by die OT waar die broederskap van die volk van God veral in Deuteronómium die konkretisering van die verbondsgedagte is.

 

In Mt. 18:1-4 gaan dit weer oor die kleintjies en kindertjies, terme wat eintlik verwant is aan broer in die res van Mt. 18.

 

Die woord volk (laos) verwys byna deurgaans na die historiese Israel. Dit word egter duidelik dat Israel sy bevoorregte posisie as volk van God misbruik het, en dat in sy plek nou ‘n nuwe volk van God tree (ethnos in 21:43). Daarom kan reeds in 1:21 sprake wees van “Jesus se volk” wat deur Hom verlos sal word.

 

Soos bekend kom die woord ekklesia in die Evangelies slegs in Mt. 16:18 en 18:17 voor. In 18:17 gaan dit kennelik om die plaaslike gemeente en in 16:18 om die kerk as geheel.

 

  • Verdere Kenmerke van die Kerk in Matthéüs

 

Jesus ken aan die kerk ‘n bepaalde outoriteit toe. So is daar in 16:19 sprake van die sleutels van die koninkryk wat aan Petrus gegee word. In 18:18 word die sleutelgesag aan die hele gemeente oorgedra. Uit die verband word dit egter duidelik dat die gemeente wat tug toepas, dit moet doen vanuit die barmhartigheid van die Here wat nie wil hê dat een van die kleintjies verlore gaan nie.

 

Ware dissipelskap bestaan in die onderhou van alles wat Jesus beveel het (18:20). Die soeke na wat God eis, is dus tegelyk genadegawe en opdrag van God aan die gelowige. Maar die geregtigheid of getrouheid aan die wet wat verlang word, moet oorvloediger wees as die van die Fariseërs en Skrifgeleerdes.

 

Hierdie doen van dit wat verwag word, is alleen moontlik by hulle wat Jesus navolg. Navolging impliseer ‘n opdrag en ‘n prys. Hulle wat Hom volg, ontvang ‘n taak om sout en lig te wees (5:13-16), om in woord en daad die evangelie te gaan verkondig(10:7 vv.). Juis hulle wat die boodskap van die koninkryk verkondig sal vervolg word.

 

  • Kerk en Koninkryk

 

Die gelowiges alleen word nie as die koninkryk van God aangedui nie. Die koninkryk is veel meer omvattend van aard as die kerk en behels sowel genade as toorn. Die kerk is in sekere sin die soteriologiese doel van die koninkryk. Die dissipels getuig ook van die koninkryk. Aan die kerk is ook die sleutels van die koninkryk gegee. Tog is die kerk wesenlik netsoos Israel nie besitters van

die koninkryk nie, maar alleen pagters (21:43). En tog kan ten slotte gesê word dat die koninkryk wel aan die nuwe volk behoort, maar da as mense wat weet hoe arm hulle voor God is.

 

 

MATTHÉÜS OOR DIE VERVULLING VAN DIE WET

 

Die Blywende geldigheid van die Wet

 

Matthéüs benadruk dat die geldigheid van die wet blywend is. Daarom was dit vir Jesus belangrik om die wet in sy eie lewe na te kom en het Hy dit ook aan sy dissipels geleer.

 

Die vervulling van die Wet

 

Die kombinasie van “die wet en die profete te vervul (plhrow)” wys reeds op die dieper betekenis van die wet, want die profete het reeds die klem gelê op liefde en barmhartigheid as noodsaaklik vir die vervulling van die wet, en as belangriker as die seremoniële wetsvervulling. En daarom moet die woorde van 5:17 ook verstaan word in die lig van die liefde.

 

“Geregtigheid” beteken in Matthéüs die doen van die wil van God as lid van die verbondsvolk van God en “oorvloediger” geregtigheid beteken om nie na die voorbeeld van die mense (by name die Fariseërs) te kyk nie, maar na die voorbeeld van God (soos deur Jesus gedemonstreer) te handel.

 

Die liefdesgebod is die sleutel tot die vertolking van die wet. Hierdie lewenswet moet gekomkretiseer word op alle terreine van die lewe.

 

DIE HEILSGESKIEDENIS

 

By Matthéüs word die heilsgeskiedenis is twee tydperke afgebaken: hierdie verdeling is Christologies bepaal. Dit gaan om die tyd van Israel, die voorbereiding vir die koms van die Messias, en die tyd van die vervulling, die “tyd van Jesus”, vanaf sy geboorte tot by sy wederkoms. Die tyd van Jesus staan van die begin of onder die belofte dat God in Jesus by sy volk sal wees (Immanuel).

 

Die voorwaarde vir saligheid is bekering en geloof, en die heil bestaan daarin dat deel gekry word aan die koninkryk van God. Die diepste grond vir die heil is die onverdiende guns van ‘n liefdevolle Vader.

 

 

 

 

GOD AS VADER

 

Die gebruik by Matthéüs om God as Vader aan te spreek, gaan terug op die OT en veral soos deur die profete gedoen is. God se Vaderskap toon ‘n besondere band met die Joodse volk. Dit vind sy neerslag in uitsprake van die ou profete. Vgl. bv. Hos. 11:1, Jes. 1:2, 31:20, 63:16.

 

Vaderskap: algemeen of besonder?

 

Die eerste vraag rondom die Vader is of Hy aangebied word as Vader van alle mense en of Hy slegs die Vader is van sy eie dissipels.

 

In die bergrede wil dit voorkom of hier van Vader in enger sin gepraat word. Die dissipels word hier aangespreek, of dan hulle wat in Hom glo, en Hy word hulle Vader genoem.

 

Daar is weliswaar geen enkele teks wat God direk aandui as die Vader van alle mense nie, hoewel daar tog iets van deurskemer. So leer Jesus sy dissipels om alle mense lief te hê, selfs die vyande, sodat hulle kinders kan wees van die Hemelse Vader, wat sy son laat opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen (Mt. 5:45).

 

En tog is dit nie die hele antwoord nie. Sy Vaderskap sluit in sy liefde en weldade aan alle mense, en tog is daar ‘n besondere band met hulle wat in besondere sin aan Hom behoort.

 

Ons kan sê dat Hy Vader is in ‘n algemene sin, maar dat sy Vaderskap eintlik tot voltooiing kom wanneer sy kinders, sy volgelinge, sy dissipels tot Hom nader. Dus maak die kindskap die verskil: die verandering moet in die mens plaasvind wat hom die reg gee om kind van God te word. Geloof en gehoorsaamheid word hier die kwalifikasie om in die besondere relasie van Vader en kind te staan te kom.

 

God word genoem volmaak (5:48) en hierdie volmaaktheid beteken dat Hy volmaak of liewer volkome is in sy liefde. Hy is volkome in die uitdeling van sy liefde. Hy word ook genoem goed (Mt. 19:16,17), en is die eties volmaakte, die perfekte goedheid.

 

God is dus die Vader wat in sy liefde Hom oor alle mense ontferm, en Hy is volmaak in die uitdeling van hierdie liefde, en sy dade is goed, en is altyd reg.

 

DIE MENS AS SONDAAR

 

In die oë van God is die lewe van elke mens baie kosbaar en daarom voorwerp van God se besondere sorg. Vergelyk bv. Mt. 10:30,31; 12:12.

 

Niks kan in waarde die plek van ‘n mens se lewe inneem nie. Dis sy kosbaarste besitting. Dit gaan veral om die geestelike attribute van die mens se lewe. Om ‘n lewe te hê wat aan God behoort, is ‘n kosbare besitting wie se waarde met niks anders vergelyk kan word nie. En selfs die geringste of nederigste persoon is kosbaar voor God (Mt. 18:10). Dit is nie wat mens het nie, maar wat jy is wat jou waarde bepaal. En om kind van God te wees, maak jou kosbaarder.

 

Selfs ‘n verlore sondaar is kosbaar in die oë van God. Daarom was Jesus die Vriend van tollenaars en sondaars (11:19). En Jesus het juis die wat verlore was, gesoek en gevind om hulle te reg (21:31), Dit het slegs gekos om jou sonde te bely om verlossing deelagtig te word, en daarteenoor was niks so afstootlik en verwerplik as iemand wat meen dat hy verlossing nie nodig het nie.

 

In die oë van Jesus was geen mens ooit te sleg om gered te word nie. Jesus het ‘n ryke en ryp oes gesien wat nog ingesamel moet word as die arbeiders net daar is (9:37,38). Hy het die moontlikheid van kinderlike geloof in eenvoudige mense raakgesien. Mense het spontane vertroue soos in klein kinders, en hul afhanklikheid maak dat hulle makliker glo as die geveinsdes onder die Fariseërs en Skrifgeleerdes (18:1 vv).

 

Die hoop op die toekomstige lewe word ook verbind aan die besondere verhouding tot God. Om te glo in Jesus Christus beteken die ewige lewe, maar om Hom te verwerp, beteken om verlore te gaan. God is die God van die lewende, dus sal hulle wat in God glo, lewe tot in ewigheid.

 

Alle mense is sondaars, dus uitgelewer aan Gods oordele en straf. Daarom kan slegs diegene wat glo en hulle bekeer, gered word en so die ewige lewe ontvang.

 

Sonde het sy oorsprong in die hart, die setel van die begeerte en die wil. So is haat die oorsaak van moord, verkeerde begeerte die oorsaak van owerspel. Die innerlike lewe reël die uiterlike lewe; die gedagte is die vader van die daad.

 

 

 

MATTHÉÜS OOR DIE ESKATOLOGIESE GEBEURE

 

Rondom die eskatologiese gebeure is daar soveel vrae dat dit die teologiese wêreld vir meer as die afgelope halfeeu besig gehou het. Wanneer ‘n mens enige werk hieroor lees, lyk dit asof hier net vrae en probleme is en geen antwoorde nie. Daarom gaan ons ook nie in die bestek van een lesing probeer om al die antwoorde te gee nie, slegs om enkele hooflyne duidelik te trek.

 

DIE PROBLEEM VAN “NAH-ERWARTUNG”

 

Die eerste probleem wentel rondom uitsprake wat dui op ‘n spoedige wederkoms van Christus. Daar is verskeie uitsprake wat gelei het daartoe dat ‘n spoedige wederkoms, selfs nog binne die leeftyd van die eerste dissipels verwag is.

 

Om die probleem nog moeiliker te maak, moet sommige uitsprake verstaan word as betrekking hebbende op nabye gebeure soos onder andere die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70. Verdere verwarring heers nog oor die begrippe “koms van die Koninkryk”, “koms van die Seun van die mens”, en of dit op dieselfde saak betrekking het.

 

Dit is alleen deur noukeurige ondersoek dat ‘n uitweg gevind kan word. Feit is dat Matthéüs sekere uitsprake van Christus aandien wat dui op sekere eskatologiese gebeure wat spoedig verwag moes word.

 

DIE TEKENS VAN DIE TYD

 

Daar word deur die Here sekere tekens aangedui wat soos die botsels aan die vyeboom die naderende eskatologiese gebeure aankondig. Daarmee saam word egter aangetoon dat die mense so totaal onvoorbereid en doodgerus sal wees wanneer hierdie dinge gebeur.

 

Om die tyd van die verskyning te wil gaan beteken, word afgewys, en tog kan vele mense deur die eeue die versoeking nie weerstaan om allerlei ingewikkelde berekenings te maak nie.

 

In Matthéüs word die gedagte van verwagting sterk na vore gebring, dog die berekening of bepaling van die tyd bly in verborgenheid.

 

DIE GROOT VERDRUKKING

 

Die toekoms hou veral drie fases in, nl. die begin van die smarte, die groot verdrukking as sodanig, en dan die parousia of wederkoms. Allerlei tekens word genoem as die begin van die smarte, wat beteken dat Jesus sy dissipels waarsku dat daar vir hulle moeilike tye voorlê. Oor die tyd self of oor die duur daarvan is daar geen definitiewe aanduidings nie.

 

Verder word die verskyning van die “gruwel van verwoesting” nog as voorteken van die groot verdrukking genoem. Daar moet met groot omsigtigheid na hierdie uitspraak gekyk word, omdat dit so maklik vatbaar is vir verkeerde verklaring.

 

Die groot verdrukking word ook nie aan ‘n bepaalde termyn gekoppel nie. Dus moet ons kennis neem van die feit van verdrukking van die kerk, dog nie te hard probeer om die tyd daarvan of die tydsduur te bepaal nie.

 

 

VERVULLING EN VOLEINDING

 

Dit is duidelik dat ons nie van ‘n eskatologie, dit wil sê ‘n afgeronde, sistematiese leer van die laaste dinge, by Matthéüs kan praat nie. Na die toekoms word verwys met ‘n doel om te leer, dit is om te waarsku, om te troos en om te onderwys, sodat steeds die toehoorders en die wat as gelowiges in die toekoms aangespreek sou word, hul persoonlike betrokkenheid sal besef.

 

Dit is belangrik om daarop te let dat by Matthéüs dit vasstaan dat Jesus weer sal kom en dat Hy daarom verwag moet word. Daar sal sekere dinge gebeur, wat vir die gelowiges verdrukking en vervolging beteken. Dog daar moet ook op gelet word dat Christus nie meer eenkant sal staan in hierdie proses nie. As die vyande van die kerk werksaam is, sal die mag van Christus netso duidelik sigbaar aan die werk wees. Dit sal dadelik van toepassing wees, en reeds binne die leeftyd van die eerste dissipels begin. Daarom moet die dissipels waaksaam wees en dinge nie te ver in die toekoms verwag nie, want niemand weet wanneer wat sal gebeur nie. Daarom moet daar gewerk word om sy koninkryk te bou en die verlossing aan die mense te bring.

 

Dus weet ons een ding: midde-in die stryd van die kerk is Jesus Christus besig om sy werk met haas tot voltooiing te bring. Die koninkryk is dus besig om te kom en Christus is naby.

______________________________________________________________________

Hierdie is ‘n verwerking van Combrink se teologie van Matteus (in: Handleiding by die Nuwe Testament, Band 4)