Die teologiese klimaat tussen die twee testamente

Die teologie van die Jode in die tussentestamentêre tyd – Tussen Ou Testament (OT) en Nuwe Testament (NT)

1. SKOPUS

Mens verstaan die Nuwe Testament baie beter as jy iets verstaan van die teologiese onderstrominge wat kenmerkend was van hierdie tyd. Ons kan bv. die boodskap van Handelinge beter verstaan wanneer ons dit lees teen die agtergrond van wat die situasie was in die Joodse samelewing van daardie tyd. Dit gaan vir ons hier in die eerste instansie daarom dat ons die gedagterigtings sal probeer verstaan, wat invloed kon uitgeoefen het op denkpatrone in die teologiese denke van die NT skrywers.

2. ROMEINSE INVLOED

Die Romeine het ‘n sterk invloed op die Joodse denkwyse gehad, veral as gevolg van die politieke druk wat op hulle uitgeoefen is. Daar is ‘n paar baie belangrike aspekte wat in aanmerking geneem moet word.

2.1 Die insluiting van Palestina binne die Romeinse ryk het twee belangrike aspekte na vore gebring: die feit dat mense ongehinderd kan reis en selfs kan gaan woon in die lande binne die Romeinse jurisdiksie het gemaak dat daar baie vreemde mense kom woon het in die Joodse land. Hulle het tog ook hulle invloed versprei. Aan die ander kant kon die Christene ongebonde die evangelie uitdra aan die wêreld van daardie tyd en is nie deur grense of owerhede aan bande gelê nie.

2.2 Die Romeinse ryk en by name regeringstelsel van die Romeinse ryk oor die provinsies het ‘n tydperk van redelike rustigheid gebring na ‘n lang voorgeskiedenis van stryd en rebellie. Daar was dan ook ‘n redelike mate van voorspoed en welvaart. Die belastingstelsel was nogtans ‘n baie groot bron van ‘n ongelukkigheid, veral deur die optrede van die tollenaars, die belastinggaarders.

2.3 Romeinse burgerskap het ook ‘n beduidende rol gespeel. Dit kon verwerf word deur ‘n som geld te gee, of kan by wyse van oorerwing, soos in Paulus se geval, iemand se deel word. Dit het groot voordele ingehou, soos ons uit Paulus se geskiedenis kon agterkom.

2.4 Aanvanklik was die Romeine baie verdraagsaam teenoor vreemde godsdienste en dit het meegebring dat die Christelike godsdiens ‘n wêreldgodsdiens kon word. Daar was egter faktore wat gemaak het dat daar botsing was tussen die Christene en die Romeinse owerhede. Hierin het veral die haat van die Jode en hulle vervolgings ‘n baie groot rol gespeel. Die haat van Nero wat teen die Christene tot uitbarsting gekom het, het die vervolging aan die gang gesit. En dit was ook onontwykbaar dat daar ‘n botsing met die keiserkultus sou wees, soos veral onder Domitianus prominent geword het.

2.5 Die Romeinse godsdiens was in sigself so verdeeld en verward dat dit te swak was om enige noemenswaardige invloed op die Christelike godsdiens uit te oefen. Die keiserkultus was ook weer politiesgerig en daarom gedoem tot mislukking.

3. GRIEKSE AGTERGROND

3.1 Baie belangrik vir die ontwikkeling van die Christelike godsdiens was die erfenis van die Griekse taal. Sedert die veroweringstogte van Alexander die Grote in die tweede helfte van die vierde eeu voor Christus, het die Griekse taal wêreldtaal geword en was dit nou moontlik om vir eeue lank jou oor die hele wêreld heen verstaanbaar te maak in Grieks.

3.2 Die Griekse godsdiens en veral die wysbegeerte afkomstig van die Griekse filosowe het ‘n groot invloed op die denke van die wêreld gehad. Maar met die Christelike godsdiens was dit anders. Hier was dit die Christelike boodskap wat getriomfeer het oor die Griekse denke en wat sy slag geslaan het te midde van die veelgodedom en verwarde denke van daardie tyd.

4. JOODSE AGTERGROND

4.1 Die Ou Testament het nog steeds sy belangrike plek ingeneem en was die grondslag vir die Joodse godsdiens, en teen hierdie agtergrond het die Christelike godsdiens ontstaan en gegroei, soos ons in die vorige lesing gesien het.

4.2 In die tyd wat die koms van Christus voorafgegaan het, veral die laaste twee eeue voor sy koms, was daar egter sekere verwikkelinge wat sy merk gelaat het op die Christendom. Dit was eerstens die politieke situasie wat die agtergrond gevorm het. Sonder om op al die stryd en bloedige geskiedenis in te gaan, was die uiteinde dat in die tyd van Christus se geboorte en sy optrede op aarde die Joodse regeringspatroon soos volg daar uitgesien het: hoewel die Jode regeer is deur Romeinse prokurators, is hulle toegelaat om hul interne sake, en veral met betrekking tot hul godsdienstige sake, in groot mate van selfbeheer en eie seggenskap te beoefen. Daar was dan ‘n raad saamgestel (Sanhedrin) wat onder voorsitterskap van die hoëpriester vergader het.

4.3 Hierdie situasie het aanleiding daartoe gegee dat uiteindelik twee teenstrydige partye na vore getree het, nl. die van die Fariseërs en die Sadduseërs. Die Sadduseërs was die welgestelde aristokrasie. Uit hulle geledere is die hoëpriesters aangewys. Hulle het die magsposisies in hulle hande gehad. As mense van status en posisie en rykdom was hulle tevrede met die gang van sake. So het hulle die Romeinse owerheid ondersteun en was verdraagsaam teenoor die Griekse kultuur. Hulle het die Mosaiese wet onderskryf maar was meer geneig tot ‘n minder strenge toepassing daarvan. Daar was ook nog ernstige leerverskille, soos dat hulle die opstandingsleer ontken het, en die bestaan van engele of geeste afgewys het. Daarteenoor was die Fariseërs streng in hul verklaring en toepassing van die Wet van Moses, en hul was gekant teen enige indringing van vreemde invloede. Die meeste van die skrifgeleerdes, dit wil sê vertolkers van die wet, het aan hulle party behoort. En onder die dekmantel van “uitleg” van die wet is weliswaar ‘n eindelose reeks van reëls bygevoeg wat streng nagekom moes word. Albei partye was verteenwoordig in die Sanhedrin. Die Sadduseërs het die hoogste posisies in die raad beklee. Maar die Fariseërs het die meeste mag gehad want hulle het die volk verteenwoordig.

4.4 Daar was nog ander kleiner groeperinge onder die Jode wat net ter wille van die volledigheid genoem kan word: Die Selote (wat ‘n fanatieke versetgroep teen die Romeine was) die Essener(‘n asketiese sektariese beweging wat ‘n soort kloosterbestaan gevoer het). Die Herodiane is redelik onbeduidend en onbekend. Hulle het hulle beywer vir vriendskap met Herodes. Die Samaritane was vanweë hul ontstaan deur die Jode gehaat en verag (en het slegs aan die 5 boeke van Moses vasgehou).

5. DIE JOODSE APOKALIPTIEK In die Joodse apokaliptiek het dit veral gegaan om die eindtyd. Allerlei duistere voorspellings oor hoe God sal afreken met sy vyande en hoe dat daar ewige geluksaligheid sal aanbreek vir sy volgelinge, was kenmerkend van die apokaliptiek, ‘n Sintevetisme tussen Joodse en Hellenistiese gedagtewêreld. Allegoriese skrifuitleg, getallesimboliek en dusitere en vreemde beeldspraak het hierin voorgekom. Sekere gedeeltes uit die OT word soms aangegee as apokalipties, hoewel daar verskil van opinies oor is: Jes. 24-27, die boek Joël, Eség. 38-39, Deut. 7-12, Sagaria en Maleagi. 6.

6. JUDAÏSME EN DIE VERSTROOIING Die streng wettiese godsdiens van die Jode in die Diaspora (verstrooiing) het nogtans die Christendom tot voordeel gestrek. Deur hul streng wetsonderhouding het hulle ‘n eie besondere karakter behou. En hulle was steeds die eerste mense in elke stad en provinsie waar die evangelie verkondig is. Die streng wetsonderhouding het deurgewerk na die Christelike kerk soos blyk uit die stryd tussen Paulus en Petrus. En dit het tot gevolg gehad duidelike uiteensetting van die verhouding tussen geloof en die Wet deur Paulus in sommige van sy geskrifte.