Die Groot Verdrukking

Daar is ‘n groot verdrukking voor die wederkoms. Wanneer?

 

Hoe ver nog voor Christus weer kom?

Kort na Jesus se hemelvaart en in besonder in die tyd rondom die op skrifstelling van die Evangelie van Matteus word die versugting as troos uitgespreek dat Christus weer sal kom. Hierdie versugting was veral deel van die kerk in tye wanneer gelowiges ter wille van hulle geloof gemartel en gedood is. En so het dit ’n refrein geword: eeu na eeu. Deur die hel van oorloë en rampe heen het mense gemeen dat die wederkoms nie meer ver kan wees nie. Vandag staan die vyeboom steeds vol in die bot. Die tekens is steeds daar. Wanneer kom die Here?

 


Mattheus 24 en die “groot verdrukking”

In Mattheus 23 sê Jesus dat die tempel verwoes gaan word. Natuurlik wil die dissipels toe baie graag weet wanneer al hierdie dinge sal gebeur. Dan sê Jesus vir hulle dat, soos wanneer die vyeboom se blare begin uitloop en mense bewus raak van die naderende somer, so moet ons uit die chaotiese gebeure in die wêreld aflei dat sy koms op hande is. Trouens, dit sal binne die leeftyd van hierdie geslag gebeur (Matt. 24:33). Hierdie moeilike uitdrukking sinspeel nie soseer op die dringende nabyheid van die wederkoms nie (vgl ook Matt. 16:28), maar op die feit dat Jesus sal terugkeer binne die huidige tydsbedeling van die mensdom, wat gekenmerk word deur dinge soos sonde, dood en vernietiging.

Niemand weet egter op watter dag of uur sy wederkoms sal plaasvind nie (Matt. 24:36). Juis om hierdie rede vermaan Hy ons om ten alle tye gereed te wees vir sy koms, sodat ons nie verleë sal staan as die Seun van die mens onverwags verskyn nie (vers 43 – 44).


Jesus lei sy onderrig oor die wederkoms met ’n waarskuwing in deur te sê dat heelwat persone binnekort op die toneel sal verskyn wat sal beweer dat hulle die Messias is (vers 4–5). Dit gebeur inderdaad ook net so. Kort na Jesus se hemelvaart tree ’n klompie persone op wat sê dat hulle God se gestuurdes is wat Israel van die Romeinse juk sal verlos. In Handelinge 5:36 en 21:38 lees ons van twee sulke valse Christusse. Jesus sê ook dat baie oorloë sy koms vooraf sal gaan (vers 6–7). Sedert sy hemelvaart vlam die een opstand en oorlog na die ander dan in die Romeinse ryk op. Ook aarbewings en hongersnode begin die wêreld wyd en syd teister, soos ons Meester aangekondig het. Hiermee saam is swaarkry en vervolging die kerk van ons dag se voorland (vers 9–10). Valse profete, wat ’n afgewaterde boodskap verkondig, en wat vele agter hulle aan verlei deur al die wonderwerke en tekens wat hulle doen (vers 11 en 24), sal volgens Jesus ook optree in die tyd voordat Hy terugkeer na die wêreld toe. Jesus skets dus nie ’n baie rooskleurige prentjie vir die kerk nie. Nee, Hy sê oop en bloot dat swaar tye op ons wag. Afvalligheid, misleiding en geweld sal aan die orde van die dag wees totdat Hy terugkeer.


Ons weet uit die geskiedenis dat die Romeine Jerusalem rondom die jaar 68 nC beleër het en die stad vir twee jaar van die buitewêreld, en van kosvoorrade, afgesny het. As gevolg hiervan het dit later so erg in die stad gegaan dat mense mekaar onderling uitgemoor en baie van die honger gesterf het. Na twee jaar val generaal Titus Jerusalem binne en rig ’n massiewe menseslagting aan. Derduisende persone word in die proses gedood en die heiligste plek op aarde, die tempel, word ook verwoes. Vir diegene wat daardie gebeure meegemaak het, kon dit inderdaad die mees traumatiese tyd ooit in die geskiedenis van die wêreld wees; veral omdat baie Jode geglo het dat God nooit sal toelaat dat sy tempel vernietig word nie, en dat Hy sy volk ook teen die Romeine sal bewaar.

Om die gedeelte in Matteus 24 slegs op die val van Jerusalem toe te pas en nie wyer van toepassing te maak op die volle eindtyd nie, blyk egter ‘n prinsipiële fout te wees. Daar is dan soveel ander tekste in die Nuwe Testament wat die gedagte ondersteun dat die “groot verdrukking” tydloos is. Hierdie groot verdrukking kom van Christus se tyd tot vandag toe voor. Dit is dus korrek om te meen dat daar nie een groot verdrukking in die geskiedenis (historie) is nie, maar daar is tog duidelike aanduidings dat die verdrukking sal intensifeer, soos die dag van die Here naderkom.


Nêrens voorspel Jesus aan sy volgelinge ‘n heerlike toekoms hier op aarde waarin hulle slegs die oorwinning van die Lig oor die duisternis sal beleef, en waarin die duisternis se magte so verslaan sal wees dat dit ‘n weglaatbare klein invloed op die kerk sal hê nie. Bavinck (Gereformeerde Dogmatiek IV:655) verstaan die woorde van Christus in Matteus 24 soos volg: namate die einde naderkom, verhoog die toorn van die bose teen die draers van God se boodskap so dat dit byna tot ‘n uitbarsting kom. Die dae van Noag keer terug: wellus, losbandigheid, geldsug, ongeloof, spotterny, lastering en dergelike dinge. Bavinck sien duidelik ‘n intensifering van die lyding van gelowiges op aarde en die aanslag van die bose wat van eeu tot eeu verwag kan word, en selfs kan intensifeer. In die Nuwe Testament word die vooruitsig gestel dat, namate die Evangelie van die Koninkryk in die wêreld verkondig word, die wêreld sy vyandigheid teenoor die Evangelie en die draers daarvan sal openbaar (Matt. 21:44; Luk. 2:34; Joh. 3:19-21; 9:39; Rom. 9:32,33; 1 Kor. 1:23; 2 Kor. 2:16; Heb. 4:12).


Soos ‘n dief in die nag…

Wanneer die standpunt ondersteun word dat daar wel ‘n intensifering van die verdrukking deur die eeue is, moet egter terselfdertyd gewaarsku word teen die opvatting dat die tyd van Christus se koms deur mense bepaal kan word.

Dit is so dat die oomblik van die wederkoms God se geheim is (Matt. 24:36) en is nie te bereken uit die voortekens waarvan die Skrif praat nie. Dit sal onverwags wees (Matt. 24:44; 1 Tess. 5:2). Ons word vervolgens gevra om met die oog op die wederkoms waaksaam te wees (Matt. 25:1–13, 14–30). Om dit te verduidelik het Jesus vir ons die gelykenis van die vyeboom gegee in Matt. 24:32-34 – “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie”. En tog bly mense voortdurend oor die wederkoms dobbel. Bybelse gegewens en veral teksverse uit die boek Openbaring word bygehaal om op vindingryke maniere datums vir die wederkoms vas te stel. Sovele van hierdie datums het al gekom en gegaan en duisende mense teleurgestel gelaat. God wil nie hê dat ons moet weet nie. Iemand het onlangs in dié verband opgemerk: God wil nie ’n kerk hê wat met hulle koppe in die wolke leef, koffers gepak en arms gevou nie. Jesus gee nie hier aan ons ’n almanak of ’n tydrooster aan die hand waarvan ons die verloop van die wêreldgeskiedenis haarfyn kan aflees nie.


Nee, al die dinge wat Hy in vers Matt. 24:4-14 aan ons genoem het as tekens van sy naderende koms is herhaalbaar. Elke geslag het immers met dinge soos oorlog, aardbewings en valse profete te make. Daarom roep dit ons almal op om deurentyd gereed te wees. Intussen gaan die magte van die bose aan in hul verwoestingswerk. Hulle weet dat hulle reeds verslaan is, maar hulle is ook nog nie finaal verslaan nie. Die oorwinning het binne ons geskiedenis reeds ‘n werklikheid geword, maar ons het steeds te midde van die verwoesting van die bose die verwagting op die finale oordeel. Dit is die Christelike hoop.

 

Binne hierdie verband moet ons die tekste oor die wederkoms van Christus lees: Hy het reeds oorwin, maar daar is nog steeds ‘n stryd op aarde waarvan die gelowige nie kan wegkom nie. Om hierdie stryd te ignoreer sou onverantwoordelik wees.

Ten slotte

Of daar slegs een groot verdrukking is of nie, blyk irrelevant te wees binne die Christelike geskiedenis. Wat wel van belang is, is die feit dat die Koninkryk van God besig is om ontplooi te word binne die wêreldgeskiedenis, en dat God mense instrumenteel gebruik om deel te hê aan hierdie proses.

Die volle erfenis is reeds aan die gelowige toegesê (vgl. Rom. 8:17). Ons het dit reeds in beginsel in hierdie lewe deelagtig geword, maar tog lê dit ook in die toekoms sodat ons dit met volharding moet najaag. Die kerk het in Christus oorwin, maar is steeds strydend besig om die Koninkryk te bou. Daaromtrent moes Paulus en Barnabas die eerste bekeerlinge in Klein Asië onderrig: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:22). Dié vers word in die 1983 – vertaling so vertaal: Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom”.


Toe Johannes geskryf het, was die verdrukking van die Christene aan die gang, en in sy Openbaring sou hy nog meer daaroor bekendmaak. In daardie omstandighede is die gelowige geroepe nie tot lydelike onderwerping nie, maar tot aktiewe volharding. In dié verbondenheid is die gelowige net deur Christus die oorwinning verseker. Ons kan dus nie maar arms gevou wag op die wederkoms omdat die tye nie in ons hande is nie. Ons behoort aktief te volhard in die uitbreiding van God se Koninkryk op aarde, want ons weet nie wanneer alles tot voleinding sal kom nie.