30 Oordenkings oor die Wese en die Raad van God

 

VERHEERLIKING

 

Lees: Luk. 23:33-49

 

 

“…vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”. – Luk. 23:43

 

 

As daar een ding is wat Jesus daar aan die kruis toe Hy hierdie man vergewe het, wou hê ons almal moet verstaan, is dit: vir God is die mens iets werd. Juis daarom het Jesus Christus mense met soveel deernis behandel. Die onreine melaatse vra om genees te word, hy ontvang genesing. Die blinde wat ‘n las van homself maak en skree om hulp, aan hom gee Jesus wat hy vra. So ook die man aan die kruis. As iemand al ooit verdien het om te sterf as gevolg van sy roekelose lewe, was dit seker hierdie man. As iemand geklassifiseer kan word as ‘n nikswerd, hier is hy langs ons Here Jesus gekruisig. Miskien is dit juis die rede waarom Jesus hierdie man as voorbeeld gebruik om aan ons te wys dat Hy vir mense omgee. God kom wys wat genade werklik beteken: jy verdien dit nie, maar Hy gee. Hier vind die man die lewe op sy sterfbed. Daarmee beloof Christus aan hom ‘n plek in die Paradys (vers 43). Wat ‘n troos wanneer ons hier op aarde van dag tot dag swoeg en sweet om ons brood te verdien om te weet, ook ek gaan die Paradys in. Verheerliking wag op hulle wat volhard tot die einde toe. God sê in Openbaring 3:10 vir die gelowige: Ek sal jou ‘n kroon van die lewe gee. Laat hierdie belofte ons die toekoms in dra. Want dis nie ‘n leë belofte nie. So seker as wat daardie man aan die sy van Jesus kon weet dat Hy die lewe gevind het, so seker wag die heerlikheid ook op elkeen wat in Hom glo.

 

Gebed: Here, ek dank U dat ek ook eendag die heerlikheid van die Paradys sal smaak. AMEN.

 

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 2:1-16