30 Oordenkings oor die Wese en die Raad van God

CHRISTUS BRING VERLOSSING

 

Lees: Heb. 9:1-14

 

 

“Maar Christus … (het met) sy eie bloed,‘n ewige verlossing teweeggebring.” – Heb. 9:11-12

 

 

Versoening beteken “om een te maak”, “om reg te maak wat stukkend was”, om “‘n gebroke verhouding te herstel”. In die ou verbond is die priesterdiens deur God ingestel om namens die volk versoening te doen vir hulle sondes (Lev. 8), maar nog steeds kon geen mens, ook nie die volk se priesters, voor God sondeloos wees nie. Die hoëpriester moes ook self eers vir sy eie sonde versoening bring, daarna vir die volk se onwetende sondes. Die ou verbond was gesetel in ‘n aardse heiligdom, in ‘n aardse tempeldiens, en alhoewel dit glorie gehad het, was dit van verbygaande aard. Die hemelse heiligdom is volmaak (vers 11) en kan nie tot niet gaan nie. Christus word hier uitgebeeld as ‘n volmaakte hoëpriester wat namens ons in die heiligdom ingegegaan het en ons met God versoen het. Christus het ons met die Vader versoen deur die stukkende verhouding wat die gevolg van die sondeval is, sodanig te herstel dat ons nie meer vyande nie, maar kinders van God genoem word. Dit word die nuwe verbond genoem. Versoening was nodig omdat God die sonde haat en dit straf, en ons onmagtig is om onsself te bevry van die dood wat ons verdien. Die tekortkoming van die ou verbond was dat dit nie blywende versoening kon bewerk nie, dit moes jaar na jaar herhaal word. Maar in die nuwe verbond het Christus een maal vir ons sonde geboet, en nou het ons die versekering: ons sonde word vergewe. As ons soek na God, omdat ons nood groot is; hier is Hy, teenwoordig deur sy Gees. As ons besef ons het hulp nodig; ons Redder is hier om ons uitkoms te gee. Die nuwe verbond is feestelik en vrymakend.

 

Gebed: Dankie Heer dat U my met God versoen. AMEN.

Bykomende Skrifgedeelte: 2 Kor. 5:11-21