Hoe moet ons die Bybel verstaan?

Deur die eeue het gelowiges gevra na die regte verstaan van die Bybel. Soos in die verlede wil gelowiges vandag graag weet wat hulle moet glo, hoe hulle moet leef en aanbid. Die Bybel word vandag in baie opsigte deur Bybellesers misbruik. Met die misbruik van die Bybel word sommige kerke en lidmate se verkeerde Skrifverstaan “Goddelik” gesanksioneer. Die dilemma rondom die uitleg van die Bybel is dat Bybeltekste baiemaal funksioneer in diens van interpreteerders se eie dogma of ideologie. Gelowiges wil vandag weet hoe hulle die Bybel beter kan verstaan, te midde van ‘n oorvloed navorsing oor en rondom die Bybel, wat soms meer daarop gemik is om die gesag van die Bybel te bevraagteken as om die Bybel verstaanbaarder te maak vir die gewone Bybelleser.

 

Hoe moet ons die Bybel verstaan?

InskripsieInleiding

Deur die eeue het gelowiges gevra na die regte verstaan van die Bybel. Soos in die verlede wil gelowiges vandag graag weet wat hulle moet glo, hoe hulle moet leef en aanbid. Die Bybel word vandag in baie opsigte deur Bybellesers misbruik. Met die misbruik van die Bybel word sommige kerke en lidmate se verkeerde Skrifverstaan “Goddelik” gesanksioneer. Die dilemma rondom die uitleg van die Bybel is dat Bybeltekste baiemaal funksioneer in diens van interpreteerders se eie dogma of ideologie. Gelowiges wil vandag weet hoe hulle die Bybel beter kan verstaan, te midde van ‘n oorvloed navorsing oor en rondom die Bybel, wat soms meer daarop gemik is om die gesag van die Bybel te bevraagteken as om die Bybel verstaanbaarder te maak vir die gewone Bybelleser.

Die rol van die Heilige Gees in die totstandkoming en verstaan van die Bybel

Die Bybel is heilsgeskiedenis. Dit beteken dat die Bybel die historiese feite weergee waarin God besig is om sy voorneme om sy volk in Christus te verlos uit te voer. God openbaar Hom deur die Bybel aan die mens, daarom noem ons die Bybel ook openbaringsgeskiedenis. Hierdie geskiedenis is natuurlik opgeteken deur die inspirasie van die Heilige Gees. Om oor die ontstaan en verstaan van die Bybel te praat kan ons nie anders as om oor die rol van die Heilige Gees te praat nie.

Die rol van die Gees in die totstandkoming van die Skrif is veelkantig. Bybelskrywers is deur God gebruik om sy boodskap vir die mens op skrif te stel. Hulle was gewone mense met tekortkominge, maar die Heilige Gees het hulle so gelei dat hulle met húlle manier van dink, manier van skryf, en húlle idees en dogmas die boodskap van God vir die antieke mens geïnterpreteer en op skrif gestel het. Die Bybel het oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar tot stand gekom, waarin tekste oor en oor nuut geïnterpreteer is. Ten spyte daarvan, en ten spyte van die feit dat daar verstommend baie mense ‘n aandeel in die skryf van die Bybel gehad het, vertoon die Bybel ‘n besondere eenheid. Ten spyte van die groot potensiaal vir die verlore gaan van die boodskap deur mondelinge oorlewering en later primitiewe skryfkuns en -materiaal, het die boodskap wonderbaarlik stand gehou. Dit bevestig dat God sy Woord deur die eeue laat behoue bly het, en dat die Heilige Gees ‘n besondere rol gespeel het in die totstandkoming van die Skrif.

Die gebruik van “gereedskap” om die Bybel beter te verstaan

Ons het die Bybel tot ons beskikking. Ongelukkig weet baie Bybellesers nie altyd waar om te begin as hulle die Bybel bestudeer nie. Ander haak by moeilike gedeeltes vas en raak ontmoedig omdat hulle die Bybel nie verstaan nie. Dit is interressant dat baie mense nie besef hoe moeilik dit eintlik is om die Bybel reg te verstaan nie. Hulle glo dat as mens die woorde in sekere sinne verstaan, jy verstaan wat die teks sê. Dit blyk egter onwaar te wees as mens in die Bybel begin delf. Die verstaan van die Bybel word voorafgegaan deur bepaalde kennis van die agtergrond van die teks self. ‘n Taal is lewend en dinamies, en dieselfde woord(e) kan in verskillende kontekste verskillend vertaal word.

Die probleem by die “regte verstaan van die Bybel” is dat ons nêrens in die kerkgeskiedenis, selfs nie eens by die kerkvaders onderling, ‘n eenvormige metode van Skrifuitleg gehad het, sodat gelowiges die Bybel eenvormig gelees of interpreteer het nie. Dit word baie duidelik as ons Chrysostomos se interpretasie van die Romeineboek vergelyk met dié van Augustinus, of selfs die allegoriese “Skrifuitleg” van Origenes vergelyk met die tipologiese “uitleg” van Methodius van Olympus. Klaarblyklik het hulle God verskillend gehoor, al lees hulle dieselfde tekste. Miskien het hulle die Bybel met verskillende brille of verskillende oogklappe gelees? Wie is reg en wie is verkeerd? Almal kan tog nie reg wees nie? Ons kry dan vandag verskilllende boodskappe van verskillende kerke en selfs teoloë kom nie met ‘n eenvormige boodskap nie. Die risiko om die Bybel verkeerd te verstaan om by sekere ideologieë en dogmas te pas word duidelik al hoe groter hoe minder die Bybelleser die taalkundige-, kulturele-, idiomatiese, en historiese konteks van ‘n gedeelte in ag neem.

Omdat die gewone lidmaat nie toegang het tot die antieke tale soos Grieks, Hebreeus en Aramees nie, Papirus is dit belangrik dat mens wyer lees, selfs verskillende Bybelvertalings met mekaar vergelyk, voor jy aanvaar dat jy die teks verstaan. Die gebruik van verskillende Bybelvertalings is ‘n maklike manier om die verskille in taal en kultuur en die gebruik van idiome in die antieke wêreld te oorbrug (Kyk bv. na die verskille in 2 Kon. 18:17 in die 1953 en 1983 vertalings). Om enige werk doeltreffend te doen het ons sekere gereedskap nodig. Dit is ook waar as ons met die Bybeltekste werk. Die gereedskap wat elke ernstige Bybelleser tot sy/haar beskikking behoort te hê is onder meer: ‘n Bybelkonkordansie, ‘n Bybelse Ensiklopedie, en verskillende vertalings van die Bybel. Bybelkommentare word gewoonlik gerig tot die teoloog, maar daar is vandag heelwat kommentare beskikbaar wat bedoel is vir die gemeente. Hierdie gereedskap help ons om meer doeltreffend met die Bybel om te gaan.

Wanneer ‘n mens oor hierdie sake praat, is daar baie Christene wat gou-gou sal byvoeg: “’n Mens het nie opleiding nodig om die Bybel te verstaan nie. Die Heilige Gees lei my”. Alhoewel hierdie standpunt ook voorkom by mense wat die Here opreg liefhet, bewys dit dat baie gelowiges nie verstaan dat God waarde heg aan die mens se verantwoordelikheid nie. Ons is nie marionette in God se hande nie. Ons het ‘n verstand gekry en ons kan dink, daarom wil God nie hê dat ons lui moet wees as ons met die Bybel omgaan nie. Wanneer ek na ‘n hartspesialis gaan vir ‘n hartoperasie, gaan ek na die beste chirurg. Hy moet op hoogte wees van die nuutste navorsing binne sy vakgebied. Ons sal tog onmoontlik nie op die operasietafel gaan lê as die dokter vooraf bekend maak dat hy nie eintlik seker is hoe die operasie gedoen moet word, of seker is dat die navorsing oor die spesifieke operasie korrek is nie! Dit sal ook geen troos wees as ‘n motorwerktuigkundige my die versekering gee dat hý die chirurg se werk net so goed kan doen, omdat hy een of twee mediese boeke gelees het, of ‘n noodhulpkursus bygewoon het, of omdat die Heilige Gees hom lei nie. Waarop dit dus neerkom is dat ons nie noodwendig formeel opgelei hoef te wees om die Bybel te verstaan nie, maar dat enigeen nie sommer klakkeloos uitsprake oor die gesag, en interpretasie van die Woord en die gebruik van verskillende vertalingsmetodes kan maak, alvorens al die kennis op daardie gebied nie ingesamel en getoets is nie. Ons moet dus baie verantwoordelik wees as ons uitsprake maak oor Bybelse tekste en gedeeltes en hoe dit verstaan moet word. Om ‘n standpunt bloot op gevoel of tradisie te laat rus, en nie op eksegetiese feite nie, bewys onkunde oor die verstaan van die Bybel, en is nie net onverantwoordelik nie, maar onaanvaarbaar vir die meerderheid gelowiges wat erns wil maak met die Woord van God.

Die gesag van die Skrif

Vandag heers daar wyduiteenlopende standpunte oor die gesag van die Skrif. Dit wil lyk asof Skrifbeskouing en -gesag in die kern staan van al die verskillende teologiese benaderings. Dit beteken dat Skrifbeskouing mense in verskillende godsdienstige gemeenskappe verdeel. Ons het egter nie nodig om hier oor die gesag van die Woord te debatteer nie. Dit is genoeg om te sê dat dit vanselfsprekend is dat die Bybel Goddelike gesag het, en die norm vir ons leer en lewe is. Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Tim 3:16), maar dit impliseer hoegenaamd nie dat ons moet veronderstel dat die uitleg van die teks eenvormig is, en altyd op presies dieselfde wyse plaasgevind het nie. Om Bybeltekste uit te lê en reg te verstaan verg verantwoordelikheid, en veronderstel bepaalde invalshoeke op die teks. Ou- en Nuwe Testament tekste is literêre produkte van die antieke wêreld. Vandag se leser word direk gekonfronteer met die afstand en verskille van verskeie beskawings. Ons moet in die uitleg van die Bybel raaksien dat die antieke beskawings ander wêreldbeelde, ander tydsbegrippe, ander verstaan van die geskiedenis, aardrykskunde, sterrebeelde of natuurstudies gehad het. Waarhede is met ‘n ander taal, ervaringswêreld en werklikheidbeskouing verpak as wat ons dit in ons eeu doen. Die wêreld wat op pilare gevestig was (1 Sam 2:8; Ps 104:5), is lank nie meer dieselfde as die wêreld van vandag met kernwapens, selfone, vigs, rekenaars en ruimtereise nie. Dit is die uitdaging van die Bybelleser om hierdie groot gapings in tyd, taal, kultuur, wêreldbeeld en geografie in die uitleg te oorbrug.

Hoe tekste benader moet word

Bybeltekste is geïnterpreteerde gebeure in die geskiedenis wat deur verskeie teologiese tekslae in verskillende kontekste tot selfstandige tekseenhede ontwikkel het. Om hierdie tekste retrospektief te ontleed, kan die Bybelleser in die lig van ontwikkelinge in die Bybelwetenskappe ‘n verskeidenheid van benaderings aanwend. Hierdie verskillende benaderings kom hoofsaaklik op die volgende neer: Eerstens stel eksegete vrae rondom die historiese gebeure of teologiese idees agter die teks. Daarby kom vrae rondom die outeur(s) deur wie die teks geskryf of die gemeenskap aan wie die teks(te) gerig is. Tweedens kom vrae aan die orde wat die literêre teks self raak en derdens word die teks ontleed met vrae wat die ‘bril’ en konteks van die leser raak. In die lig van die beperking op ruimte is dit nie moontlik om verder hierop in te gaan nie. Al die metodes kom daarop neer dat daar gevra word na die boodskap van die antieke skrywer en die verstaan van die teks deur die antieke leser, voordat afleidings gemaak kan word oor die boodskap vir die moderne leser. Wat egter baie belangrik is, is dat die leser altyd in gedagte sal hou dat ons met God se Woord werk en dat dit God is wat sy boodskap aan die leser bekend maak, en nie andersom nie.

Hoe moet ons die Bybel verstaan?

Uit die bogenoemde is dit duidelik dat dit maklik is om die Bybel te verstaan, maar nie so eenvoudig is om die Bybel REG te verstaan nie. Daar is vandag baie hulpmiddels tot ons beskikking om die Bybel reg te kan verstaan. Ons moet nie huiwer om hulle te gebruik nie, want so hoor ons die bedoeling van die Woord van die Here duideliker, en kan ons met meer verantwoordelikheid verstaan wat die Woord ons leer. Met ‘n klein bietjie moeite kan elke gelowige baie meer rondom die Bybel verstaan. Natuurlik lei die Heilige Gees ons om hierdie dinge te glo, maar geloof berus mos op KENNIS EN VERTROUE!

Slot

 

Om die Bybel te verstaan is vir elke gelowige van onskatbare belang. Dit is egter nodig dat ons met verantwoordelikhheid en met opregtheid na die Bybel gaan, en nie ons idees en sieninge op die Bybel afdwing deur sekere Bybelverse uit konteks te haal nie. Om die Bybel te verstaan is nie so moeilik as ons bereid is om moeite te doen nie. Dit vra dat die Bybelleser nie antagonisties staan teenoor navorsing oor die kulturele-, godsdienstige- en taalkundige verskille tussen ons en die antieke wêreld nie.