Die bronteks van die Bybel

Die Bybel was oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Ongelukkig het ons nie vandag meer die oorspronklike manuskripte van die Bybel nie. Vandag is ons aangewese op kopieë van die Bybelse manuskripte wat soms baie laat eers geskryf was. Vir baie jare is Christene al op soek na die beste Hebreeuse en Griekse tekste (grondtekste) vir vertalings van die Bybel, omdat ons van oordeel is dat ons graag die Woord van God wil hoor soos die skrywers dit bedoel het. In hierdie artikel handel ons oor die beste teks vir die vertaling van Bybels, asook die probleem met die sogenaamde "Textus Receptus". 

Die Bybel

Ons onderskei tussen die bronteks van die Ou Testament en die bronteks van die Nuwe Testament.

1. Die bronteks van die Ou Testament

Vanaf die verwoesting van Jerusalem in 586 vC het die volk van die Here in verstrooiing gegaan. So het dit gebeur dat die Ou Testamentiese tekste op verskillende plekke gekopiëer is. Ons moet egter onthou dat dit ‘n moeisame proses was, en dat tekste met die hand oorgeskryf was.

Die Ou Testamentiese kanon was nog nie afgesluit nie, en daar was klaarblyklik nog geen standaardteks ('n algemene aanvaarde teks) nie. So het elke Joodse gemeenskap op elke plek in ‘n sekere sin ‘n eie teks gehad wat in gebruik was, en uiteraard het die tekste van verskillende gemeenskappe van mekaar verskil. Onder die Persiërs, en gedurende die heerskappy van die Grieke (4de eeu voor Christus) het daar nog verskillende tekste van die Ou Testament ontstaan, sodat daar teen die tyd van Christus verskillende kopieë van die Ou Testament in gebruik was.

In die tyd van Christus het die Jode nie meer Hebreeus gepraat nie, maar tog is die Hebreeuse manuskripte steeds gekopieer en in die sinagoges gebruik. Daar was egter verskillende Hebreeuse tekste op verskillende plekke in Palestina in gebruik. Daar was dus nie net een teks in die tyd van Christus in gebruik nie. Die feit dat Christus in die Nuwe Testament nie aanhaal uit die Hebreeuse tekste nie, maar uit die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament) beklemtoon die feit dat daar in hierdie tyd nog geen vasstelling van brontekste was nie, en verskillende tekste was in gebruik.Jesaja Hebreeuse teks

Deur die loop van die eeue is verskeie kopieë van kopieë gemaak, sodat ons nie vandag die oorspronklike teks kan vasstel nie. Vandag het ons nie meer daardie tekste nie: hulle het verlore geraak. Die oudste volledige manuskrip van die Ou Testament is die Kodeks Leningradensis (1008 AD). Dié teks is in die uitgawe van die Hebreeuse Bybel van Kittel gedruk, en is dieselfde teks wat in die Hebreeuse Biblia Hebraica Stuttagartensia (in 1977) gedruk is. Hierdie teks was die grondteks van die 1933/53 Afrikaanse vertaling, asook die grondteks van die 1983-Afrikaanse vertaling. Ons het gevolglik nie die oorspronklike teks van die Ou Testament nie, maar ons het wel ouer tekste wat dele van sommige Ou Testamentiese boeke bevat. Heelwat nuwe navorsing het die laaste jare aan die lig gebring dat daar verskille tussen die verskillende tekste van die Ou Testament was. Een van die belangrikste bronne vir die teologiese wetenskap, was die ontdekking van die dokumente van Qumran in die vorige eeu. Hierdie tekste kom uit die tyd voor Christus, en toon enkele verskille met die tekste wat tot onlangs toe as brontekste gebruik was. Deur die Qumran-tekste met die beskikbare tekste te vergelyk kan ons vandag sekere dele van die Ou Testament rekonstrueer tot voor die tyd van Christus. Hierdie proses word deur die teologiese vak Tekskritiek ondersoek. In hierdie vak word tekste met mekaar vergelyk om die beste tekslesing te kan kry.

Omdat die bronteks van die 1933/53 en die 1983 Afrikaanse vertalings wat die Ou Testament betref, dieselfde bronteks was, en omdat ons nie 'n beter volledige bronteks het as die Kodeks Leningradensis nie, word hier nou volstaan met die volgende opmerking:

Ons moet, wat die Ou Testament betref die volgende as wetenskaplike vertrekpunt neem: Wat die teks van die Ou Testament betref, moet enige vertaling daaraan beoordeel word of dit die Kodeks Leningradensis soos in Biblia Hebraica Stuttgartensia (1977) gedruk, op ‘n verantwoordelike tekskritiese wyse as bronteks gebruik het.

 

2. Die bronteks van die Nuwe Testament

HOE WORD DIE BRONTEKS SAAMGESTEL?

Ons het reeds gesien dat die probleem is dat die oorspronklike manuskripte verdwyn het. Wat die Nuwe Testament (NT) betref, gaan ons oudste manuskripte (MSS) terug tot aan die einde van die 2de eeu. As ons in aanmerking neem dat die oudste brief van Paulus teen ongeveer, 50 nC. geskryf is, die eerste drie Evangelies teen ongeveer 64 tot 68 nC. en Johannes se geskrifte met Openbaring as die laaste teen ongeveer 90 to 95nC., dan is ons gelukkig om MSS van die hele Nuwe Testament (NT) te hê wat maar ongeveer 100 tot 150 jaar na die oorspronklikes ontstaan het.

Die wyse waarop MSS oorgelewer is, is natuurlik deur afskrywe van een manuskrip na 'n ander: letter vir letter. Natuurlik word daar foute gemaak veral wanneer in tye van vervolging onder groot druk soms in nagtelike ure oorgeskryf moes word. Skryffoute is verantwoordelik vir die meeste variante lesings (dit is verskille) in die MSS. 'n Verdere probleem is dat die oudste MSS nie die NT as geheel in een boek bevat nie. Die boeke van die NT bestaan in manuskripvorm uit losse versamelings, dit wil sê versamelings van die Evangelies, of versamelings van die Paulusbriewe (enkeles of in groepe) en ook versamelings van die ander geskrifte van die NT.

Die oudste volledige NT in sy geheel is Kodeks Sinaïticus uit die 4de eeu en Kodeks Vaticanus ook uit die 4de eeu of begin 5de eeu. Nog 'n probleem is dat die eerste MSS geskryf is op papiri, dit wil sê op bladsye wat gemaak is van die papirusplant wat gedroog is. Dit is te begrype dat hierdie soort skryfmateriaal baie broos is en maklik vergaan. Dit is eers met die ontstaan van die kloosters in die 4de eeu dat perkament gebruik is om die NT op te skrywe.

Vir die vasstelling van die teks word MSS met mekaar vergelyk. Die algemeenste metode is om een MS te neem en dan die lesings van die ander MSS daarmee te vergelyk en dan antwoorde te soek wanneer daar variante lesings voorkom. So bv. het Tischendorff die Kodeks Sinaïticus geneem en ander variante tekslesings daarmee vergelyk. Daar is verskillende reëls waarvolgens nou bepaal word of 'n spesifieke lesing die oorspronklike of die beste is. Op wetenskaplike wyse is vasgestel dat Kodeks Sinaïticus en Kodeks Vaticanus die minste korreksies bevat en met hul ouderdom in ag geneem as die betroubaarste tekste of MSS beskou kan word. Vir die afgelope 100 jaar word oor die hele wêreld gebruikgemaak van die Griekse NT soos saamgestel deur Nestlè. Dit is die mees algemene uitgawe van die Griekse NT. Hierdie saamgestelde werk het alreeds 26 uitgawes beleef, met elke nuwe uitgawe met nuwe gegewens wat bygewerk is namate die navorsing gevorder het. Die 1983 vertaling van die Bybel in Afrikaans het van die 25ste uitgawe van 1963 gebruik gemaak as bronteks vir die vertaling van die NT.

HOE IS HIERDIE TEKS SAAMGESTEL?

Aanvanklik het Nestlè as basis die teks soos deur Westcott en Hort saamgestel, gebruik, maar dan is die uitgawes van Tischendorff en B Weiss daarmee vergelyk. As twee van die drie saamstem oor 'n bepalde tekslesing is dit deur Nestlè gebruik en die 3de lesing is in die tekskritiese apparaat (die aantekeninge in die Griekse teks wat die verskillende lesings lys) opgeneem. Ook is van ander tekskritiese werke gebruik gemaak. Met die ontdekking van papiri in die dertiger en veertiger jare van die 20ste eeu het baie belangrike nuwe gegewens beskikbaar geraak. Kurt Aland het nou by gekom en hy het veral die gegewens wat deur die papiri beskikbaar geraak het bygewerk.

WAT WORD VERSTAAN ONDER VARIANTE LESINGS?

Dit is wanneer tekste uit MSS met mekaar vergelyk word en daar dan verskille voorkom. Dit kan wees as gevolg van skryffoute wat gemaak is by die oorskrywe van die teks. Woorde verskil of die woordorde kan soms verskil. Sommige woorde kom voor in een MS maar ontbreek in 'n ander. Dit alles maak dit moeilik om te weet wat is reg. Daar het egter 'n hele wetenskap rondom hierdie probleem ontstaan wat vaste reëls neergelê het waarvolgens die beste lesing vasgestel word. Wanneer dit alles in ag geneem is, is dit betekenisvol dat die twee oudste volledige MSS nl. Kodeks Sinaïticus en Kodeks Vaticanus beskou word as die betroubaarste MSS, omdat beide betreklik min of geen aanduidings van korreksies het. Met die ontdekking van die papirus manuskripte in die vorige eeu, word die hele prent verander. Nou word gewerk met tekste wat 200 jaar ouer is. Dit bring ons nog nader aan die oorspronklike tekste of MSS.


OOR TEXTUS RECEPTUS

Die woord Textus Receptus is afgelei van die Latynse term "ab omnibus receptum". Dit was die eerste keer gebruik deur die Elsevier broers in die Middeleeue om te verwys na hulle weergawe van die Griekse Nuwe Testament. Die woorde "ab omnibus receptum" beteken "deur almal aanvaar". Die woorde "Textus Receptus" bedoel dus dat dit 'n teks is wat deur almal aanvaar word. Nadere ondersoek toon egter dat hierdie manuskrip nie deur almal aanvaar was nie, en dat ons dit nie vandag kan aanvaar nie, omdat dit nie 'n betroubare weergawe van die beste (oudste) Griekse tekste is nie.

WAAR KOM DIE TEXTUS RECEPTUS DAN VANDAAN?

Met die koms van die boekdrukkuns het al hoe meer uitgawes van Bybelse tekste verskyn. Die eerste omvangryke werk uit Gutenberg se drukpers was die bekende Gutenbergbybel, 'n prageksemplaar van die Vulgata (Latynse vertaling van die Bybel), wat in 1450 tot 1456 verskyn het. Hierna het verkillende uitgawes van die Latynse Bybel gevolg. Hoewel kleiner dele van die Griekse NT verskyn het, was dit eers in 1516 dat die Griekse NT sy Editio Princeps (eerste uitgawe) gehad het toe Desiderius Erasmus se teks verskyn het.

DIE EERSTE GEDRUKTE GRIEKSE TEKS
a. Erasmus

In 1516 verskyn die eerste Griekse NT soos saamgestel deur Desiderius Erasmus van Rotterdam. In werklikheid was Erasmus se teks nie die eerste voltooide teks nie. Die Kardinaal Francisco Ximenes De Cisneros het reeds in 1514 'n Poliglot (dit is 'n manuskrip wat meer as een vertaling van 'n teks langs mekaar gedruk het) voltooi en genoem is die Komplutensiese Poliglot. Dit het die Bybel in Hebreeus, Grieks, Aramees en Latyn bevat. Hoewel reeds in 1514 gereed, moes dit tot 1522 wag op pouslike sanksie voordat dit amptelik gepubliseer kon word. Die uitgewer Froben van Basel het Erasmus aangemoedig om 'n teks voor te berei sodat hulle die eerste kon wees om 'n Griekse NT te publiseer. Binne 6 maande het hy sy teks vir die drukpers gereed gehad. Hoewel Erasmus beweer hy het die oudste en beste MSS vir sy teks gebruik, het latere studies aan die lig gebring dat dit nie die geval was nie. Dit blyk dat hy slegs 6 minuskelmanuskripte gebruik het. Al hierdie MSS is deel van die laat Middeleeuse minuskelteks. Die laaste 6 verse van Op 22 het in die MS ontbreek en hy kon nie gou genoeg op 'n ander MS lê wat hierdie verse bevat het nie en toe het hy maar self uit die Latyn in Grieks vertaal. Daarin kom 'n woord voor wat nêrens anders in die hele Griekse literatuur voorkom nie. Die verskyning van die teks het diskussie ontlok. So is Erasmus deur Stunica, een van die samestellers van die Poliglot, daarop gewys dat die bekende Comma Johanneum in 1 Jn 5:7-8 ontbreek en moes ingevoeg word. Erasmus het geweier omdat hy die betrokke woorde nie in enige Griekse MS tot sy beskikking kon vind nie. Hy het egter onderneem om dit by sy teks in te sluit indien 'n Griekse MS met hierdie woorde aan hom getoon sou word. Spoedig is so 'n MS (wat uit die 16de eeu dateer) aan hom getoon en hy was verplig om die woorde by sy teks in te sluit. Dit is toe in sy derde uitgawe van sy teks in 1522 ingesluit. Tot vandag toe kon egter geen ander Griekse MS gevind word wat hierdie woorde bevat het nie. Erasmus het dus die Bisantynse tradisie voortgesit deur 'n teks te publiseer wat nie op die oudste en beste MSS gebaseer was nie, maar in werklikheid op jong en onbetroubare MSS.

b. Komplutensiese Poliglot

Dit is saamgestel met die oog op die herdenking van die geboorte van Karel V. Geen moeite is ontsien met hierdie uitgawe van die Bybel nie. Vier Bybeltekste, nl. Hebreeuse, Griekse, Aramese, en Latynse Bybels saam met ander boeke soos 'n Hebreeuse grammatika en woordeboek. Die Griekse teks wat in die 5de volume gepubliseer is, het reeds in 1514 van die pers gekom, en dit is moontlik dat die ander volumes teen ongeveer 1520 gereed was, maar die samestellers moes wag tot 1522 voordat Pous Leo X toestemming gegee het dat die teks gepubliseer kon word.

Die samestellers het MSS uit die biblioteek van die Vatikaan vir hierdie teks geleen en die MSS moes eers terugbesorg word voordat die teks gepubliseer sou word. Die MSS ten grondslag van hierdie uitgawe het nie veel verskil van die van Erasmus se teks nie.

STEPHANUS SE TEXTUS RECEPTUS

In 1546 verskyn die eerste uitgawe van die teks van die Fransman Robert Estienne, beter bekend onder sy gelatiniseerde naam Stephanus. Hy het hierdie teks saamgestel deur hoofsaaklik van Erasmus se teks eerder as van die beskikbare MSS, gebruik te maak. Die enkele veranderinge aan die teks was veral vanuit die Poliglot. Selfs die uitgawes tot die 4de in 1551 verskil so min van Erasmus se teks dat dit bloot as 'n hersiene uitgawe van Erasmus se teks beskou kon word. Die belangrikste is sy 3de uitgawe in 1550, die sogenaamde Regia. In hierdie teks het vir die eerste keer 'n tekskritiese apparaat voorgekom met variante lesings uit ander MSS in die kantlyn aangetoon. Die 4de uitgawe in 1551 het vir die eerste keer hoofstuk- en versindelings bevat. Stephanus het hierdie werk onderneem terwyl hy op reis was van Parys na Lyons.

BEZA SE TEXTUS RECEPTUS

Theodore De Beza, die bekende hervormer en opvolger van Calvyn in Geneve, publiseer in 1565 die eerste van 4 uitgawes van die Griekse NT. Nie minder as 10 herdrukke is gemaak nie, waarvan die laaste in 1611, meer as 5 jaar na sy dood. Beza gebruik Stephanus se 4de uitgawe as basis en slegs in enkele gevalle verander hy die lesings van hierdie uitgawe. Dit het hy gedoen nie teenstaande die feit dat ouer manuskripte toe reeds tot sy beskikking was. Hy het dit nie gebruik nie omdat dit volgens hom te veel afgewyk het van die aanvaarde teks van Erasmus. Hy het ook variante lesings in die kantlyn aangeteken. Sy teks was deur die Nederlandse Statevertalers as grondteks gebruik.

DIE ELSEVIERS

Hoewel Beza se teks reeds kenmerke van 'n algemeen aanvaarde teks vertoon het, is dit eers die teks van die 2 Nederlandse broers Bonaventure en Abraham Elsevier wie se teks as Textus Receptus aanvaar is. Hulle publiseer in 1624 'n klein sakuitgawe gebaseer op Beza se 1565 uitgawe. 'n Tweede uitgawe volg in 1633 en hulle stel in die voorwoord hierdie teks voor as 'n getroue weergawe van die oorspronklike tekste, wat deur almal aanvaar word. (ab omnibus receptum). Spoedig is hierdie teks in Europa as standaardteks aanvaar. So het dit uiteindelik gebeur dat die Griekse NT 'n Textus Receptus gekry het, 'n teks wat as standaardteks aanvaar is en waarvan tekskritici vir eeue lank nie durf afwyk nie. Hoewel twee tekste onderskeidelik in Engeland (die van Stephanus) en Europa (die van die Elseviers) die status van Textus Receptus ontvang het, was dit inhoudelik eintlik dieselfde teks.  

OPMERKINGS OOR DIE TEXTUS RECEPTUS 

Ons het nou tot dusver gesien dat daar nie in werklikheid iets soos 'n Textus Receptus bestaan nie, omdat Textus Receptus beteken dat dit 'n teks is wat deur almal aanvaar word (wat nie die geval is nie). Ons het ook gesien dat daar verskillende weergawes van verskillende persone se Textus Receptus bestaan.

Daar was en daar is nog steeds vandag baie misverstande oor die sogenaamde Textus Receptus. Ons moet onthou daar is nie 'n Textus Receptus nie. Erasmus het aan die begin van die 16de eeu, kort na die uitvinding van die boekdrukkuns opdrag aanvaar om 'n Griekse NT saam te stel wat nou in druk kon verskyn. Erasmus het MSS geneem wat vir hom die beskikbaarste was, en hy het korreksies aangebring waar hy dit nodig geag het. Op 1 Maart 1516 is die eerste gedrukte Griekse teks van die NT deur Erasmus by Froben in Basel gepubliseer. Van hierdie uitgawe het Erasmus self gesê: praecipitatum verius quam editum, oftewel "thrown together rather than edited" (Aland/Aland 1987, p.4). Daar was dus nie 'n Textus Receptus nie, maar dis 'n teks wat geskep is deur Erasmus uit uiteindelik ongeveer twaalf MSS en na vyf verskillende verbeterde uitgawes.

DIE BESTE GRIEKSE TEKS VANDAG? 

As mens in ag neem dat manuskripte deur die eeue heen gekopieër was, en dat daar moontlike skryffoute kon ontstaan, is dit mos logies dat die oudste Griekse tekste die beste lesing moet bevat.

Vervolgens het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) sedert 1904 die uitgawe van Nestlè (wat dieselfde is as die United Bible Society se Greek New Testament) gebruik vir die vertalings wat in verskeie tale gemaak is. Die Nestlè-uitgawe het die teks van die Kodeks Sinaïticus bevat, met ander woorde die oudste teks. Dit is 'n beter teks.  Vir die Afrikaanse vertaling van 1933 is egter nog van Textus Receptus gebruik gemaak omdat dit die teks is wat vir die Statevertaling gebruik is. Ons het egter nou reeds kennis geneem dat die Textus Receptus nie 'n betroubare teks is nie.

Na heelwat beraadslaging en ernstige studie is uiteindelik ooreengekom dat die 3de uitgawe van UBS se "The Greek New Testament" en die 26ste uitgawe van Nestlè/Aland se Novum Testamentum Greace sou ooreenstem met mekaar wat die teks betref. Kleiner verskille soos paragraaf indeling, ortografie en tekskritiese apparaat sal egter voortbestaan. Die probleem by elke variante lesing is opnuut beoordeel en volgens wetenskaplike metodes is dan die beste lesing vasgestel. Nou het dit nie meer gegaan of MSS beter of swakker is nie. Daar is ook in hierdie uitgawes heelwat afgewyk van Westcott en Hort se teks wat vir te krities was, en nie noodwendig die beste tekslesing bevat het nie. Die hele MS-situasie het verander. Die vroeë papiri se getuienis het alles nou 200 jaar vroeër geskruif, sodat getuies van MSS van 200 nC selfs verkies is bokant Kodeks Siniaïticus en Kodeks Vaticanus. "The age of Westcott-Hort and of Tischendorf is definitely over" skryf Aland voor in die Nestlè-Aland Griekse Bybel (vgl. Nestlè/Aland 1986, Introduction p.4 en 5). So kan daar nou gepraat word van 'n standaard teks wat oor die hele wêreld gebruik word. Van elke individuele woord kan rekenskap gegee word. Die tekskritiese apparaat verwys na die oorspronklike bestaande MSS en kan dus gekontroleer word. En dit is hierdie teks wat gebruik is vir die 1983 vertaling.

ENKELE BESWARE BEANTWOORD

TEKSVERWRINGING

Daar is deur sommige kritici aangevoer dat die teks wat gebruik is vir die 1983 Afrikaanse Vertaling (NAV) op plekke verander is om een of ander duistere rede. Dit sou dan ook die rede wees vir die weglating van sekere gedeeltes soos bv. Joh. 5:4, Joh. 3:13, Mt. 6:13, om enkeles te noem. Hierdie soort van kritiek het egter geen grond nie. Lank voor daar mense was soos Origenes en lank voor die bestaan van die Rooms Katolieke Kerk het die weglatings al voorgekom. Dit kan gekontroleer word deur die oorspronklike MSS se lesings na te gaan. Die MSS is beskikbaar in verskillende plekke van bewaring soos museums. Dit is eg en dit bestaan. Met groot oortuiging kan gesê word dat die weglatings nie voor die deur van die vertalers gelê moet word nie. Hulle het maar net vertaal wat in die teks staan. En die teks kan gekontroleer word.

INVLOEDE VAN BUITE OP DIE TEKS

Ek gaan net drie voorbeelde noem om aan te toon hoe ongegrond hierdie soort van kritiek is.

i. Joh. 3:13

In die 1933/53 vertaling lees die teks so: "En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die seun van die mens wat in die hemel is". In die 1983-vertaling: "Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens". Dit gaan hier oor die woorde "wat in die hemel is", wat in die 1983-vertaling ontbreek. Volgens sommige (o.a. Gunther en Gouws) is die Godheid van Christus hier in die gedrang. Dit sou dan onder invloed van die Arianisme wees dat die Godheid van Christus ontken word. IJ Gouws beweer dat "Christus na die aarde neergedaal het "sonder om die hemel leeg te laat". Die weglating van die woorde "wat in die hemel is" deur die NAV, sou volgens hom onder invloed van die Arianisme geskied het en daarom is die teks hier deur Origenes en Eusebius vervals.

Eerstens moet ons onthou dat al die oudste MSS hierdie woorde weglaat, onder andere Papirus 66 (± 200 nC.) en Papirus 75 (3de eeu), dus MSS wat ouer is as die Arianisme en ook voor die tyd van Origenes en Eusebius.

Tweedens maak die betrokke woorde in die besondere konteks nie sin nie. Jesus is in gesprek met Nikodemus en hulle is op die aarde, en dis moeilik te verstaan dat Jesus hier op die aarde sou meld van die Seun van die mens "wat nou met jou, Nikodemus, praat, Hy wat in die hemel is."

Derdens word die Godheid van Christus in hoofstuk 3 alleen etlike kere veronderstel (in vers 13, 15, 16, 17, 18, 34, 35, 36). Geen dwaalleer is verkondig nie, die oudste Griekse teks is bloot konsekwent vertaal. (Vgl. vir die Godheid van Christus Joh. 1:1 in die NAV).

ii. Joh. 5:3 en 4

Die weggelate woorde is Verse 3b tot 4: "wat vir die roering van die water gewag het. Want 'n engel het op bepaalde tye neergedaal in die bad en die water geroer. Die een wat dan eerste ingaan na die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ookal gely het". Volgens Gunther het die vertalers blykbaar besluit om die woorde weg te laat en "daarmee word die NAB se filosofie duidelik, nl. dat dit tereg pas by die liberale sienings van ons dag dat wonderwerke en bedieninge van engele verby is" (vgl. p. 17-18 van sy boekie).

Eerstens laat die oudste MSS selfs sover terug as Papirus 66 en 75 uit die 2de en 3de eeu hierdie gedeeltes weg, verder ook Kodekse Sinaiticus, Vaticanus, Alexandrinus, Efraimi Rescriptus en Beza, asook die Vulgata en Peshitta, dus tot die 5de eeu se einde. Tweedens is dit dan juis 'n wonderwerk van Jesus wat hier beskryf word. Nog 6 ander wonderwerke van Jesus deur Johannes vermeld, kom voor in die NAV. Derdens is dit opvallend dat in die 7de vers (5:7) baie duidelik die roering van die water vermeld word.

Matt. 6:13

In die oudste MSS tot die 8ste eeu word die slotsin van die Onse Vader weggelaat. Eers in MSS na die 9de eeu kom dit wel voor. Baie ernstige kritiek is uitgespreek teenoor die NAV wat die doksologie nie bevat nie. Twee sake moet egter in aanmerking gebring word. Eerstens is daar die manuskripgetuienis, wat duidelik uitwys dat in die oudste MSS het hierdie doksologie nie voorgekom het nie. Eers na die 9de eeu verskyn dit in MSS. Tweedens moet ons by wyse van vergelyking kyk na Luk. 11:2-4. Hier sien ons dat in geen MS, oud of jonk, het hierdie doksologie ooit voorgekom nie. Daarom moet ons aanvaar dat die doksologie later (na die 9de eeu) bygevoeg is. Dit word algemeen aanvaar dat hierdie doksologie om liturgiese redes bygevoeg is. En verder het die kerk sederdien ook geen probleme ondervind om hierdie doksologie as deel van die gebed te aanvaar nie. Dit het dan ook reeds so ingeburger geraak dat die 1983-vertaling die woorde by wyse van 'n voetnota byvoeg.

SLOTOPMERKINGS

Die UBS Griekse teks (derde of vierde uitgawe) of die Nestlè-Aland (26ste uitgawe) moet beskou word as die beste teks van die Griekse NT wat beskikbaar is. Eerstens is dit gebaseer op die oudste beskikbare MSS. Dis die naaste wat ons kan kom aan die oorspronklike teks. Ons kan dankbaar wees dat die Here hierdie MSS vir ons bewaar het.

Ons moet in gedagte hou dat die huidige teks nie vervals kan word nie. Afgesien van wêreldwye waaksaamheid oor die teks is die MSS almal bekombaar en ondersoekbaar. Elke woord in die Griekse NT kan gekontroleer word. 

Die teks wat gebruik is vir die NAV is nie deur Nestlè-Aland uitgevind of deur UBS vervals nie. Dit is soos die MSS dit aan ons uitwys. Daar is onder geleerdes verskil van mening oor die vertaalmetode van die NAV, en of die beste vertaalmetode wel gebruik is. Daaroor handel ons nie hier nie, maar wat die bronteks betref is daar beslis nie ongeruimdhede nie. 

Ons moet kennis neem dat, wat die teks van die Nuwe Testament betref, daar nie so iets soos ‘n Textus Receptus (TR) bestaan nie, maar dat vandag aanvaar word dat TR ‘n samevoeging van verskeie manuskripte was, en dat daar verskillende gedrukte uitgawes van die teks verskyn het, wat almal van mekaar verskil het. Dit is egter belangrik om te besef dat hierdie teks op sy vroegste dateer kan word uit die 14de/15de eeu na Christus. Die navorsing het duidelik getoon dat die sogenaamde Textus Receptus ‘n minder aanvaarbare teks was, aangesien die teks nie teruggevoer kon word na die oudste bronne nie.

Saam met die United Bible Society is daar ‘n “standaardteks” vasgestel wat as bron sou dien vir alle vertalings na 1976.

Ons moet dus die volgende oor die teks van die Nuwe Testament aanvaar:

Wat die teks van die Nuwe Testament betref, moet enige vertaling daaraan beoordeel word of dit die beste saamgestelde bronteks bevat en of daar op ‘n verantwoordelike tekskritiese wyse met die bronteks omgegaan is. Objektief geoordeel, moet die sogenaamde standaardteks, soos gevind in die 3de uitgawe van The Greek New Testament (wat dieselfde as die 26ste uitgawe van Nestlé-Aland is) met sy tekskritiese apparaat, in hierdie stadium as die beste bronteks vir vertalingsdoeleindes beskou word.