Hoe weet ons die Bybel kom van God af?

Hoe weet ons die Bybel kom van God af? Is dit nie maar net ‘n boek wat deur mense geskryf is, en wat maar net hulle opinie oor God opsom nie? Ons praat oor die gesag van die Bybel.

bybelDie vraag is: hoe weet ons dat die Bybel in werklikheid deur Goddelike inspirasie tot stand gekom het? Allereers antwoord ons op hierdie vraag deur te sê dat die Bybel self daarvan spreek.

Die selfgetuienis in die Ou Testament

Hierdie getuienis aangaande die goddelike oorsprong van die Bybel vind ons in verskillende uitsprake. Ons bepaal ons eers by die Ou Testament. Daarin vind ons nie alleen aanwysings dat daar van God openbarings ontvang is nie, maar dat die Bybelskrywers dit ook op sy bevel neergeskryf het. Ex. 17:14; 34:27; Num. 33:2; Deut. 31:19; Jes. 8:1; 30:8; Jer. 30:1; 36:2; Dan. 12:4; Hab. 2:2. Jesus sowel as die skrywers van die Nuwe Testament (en in besonder die apostels) het die Ou Testament as die heilige Skrif geëer en aangehaal. (Heelwaarskynlik is die LXX, of die Griekse vertaling van die Ou Testament in die Nuwe Testamentiese tyd gebruik). Verwysende na wat in die Ou Testament staan, het die Here Jesus telkens gesê: “Daar is geskryf”. Matt. 4:4; 7:10; 21:42; 22:29. Soms word spesifiek melding gemaak van die wet, van Moses, die profete en die psalms. Luk. 24:44. As die Here Jesus dan die uitsprake in die Ou Testament gebruik om sy eie persoon en gesag te bewys, is dit ’n duidelike aanduiding dat Hy daarmee veronderstel dat al hierdie geskrifte met goddelike gesag en betroubaarheid spreek. Ook die dissipels van die Here Jesus erken dat God in die Ou Testament spreek. In Matt. 1:22 lees ons byvoorbeeld: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het”. Vergelyk ook 2:15. Lukas praat in dieselfde trant as hy in Hand. 1:16 sê: “hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid …” Die Hebreërskrywer verklaar dat dit wat Moses geskryf het ook die gebod van God is. Hebr. 9:19, 20; 10–28. In Rom. 15:4 verklaar Paulus dat “alles wat tevore geskryf is, is tot ons lering tevore geskryf, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” Dit bewys dat al die destydse Ou Testamentiese geskrifte as ’n eenheid geken is en as van goddelike gesag eerbiedig is.

Die selfgetuienis in die Nuwe Testament

Wat die Nuwe Testament betref, vind ons nie dieselfde uitsprake as dié wat betrekking het op die Ou Testament nie. Juis omdat met die skrywe van hierdie boeke die Nuwe Testament uiteraard nog nie daar was om na te verwys nie. Desnieteenstaande word die goddelike gesag in die boeke van die Nuwe Testament tog geïmpliseer. Ons merk, byvoorbeeld, dat die apostels nie alleen vir hul gesproke woord, maar ook vir hul geskrewe woord goddelike gesag opeis. 2 Thes. 2:15; 3:14; 1 Thes. 5:27. Paulus verklaar in 1 Kor. 2:14 dat dit wat hy spreek, hy deur die Heilige Gees doen. Petrus praat van die evangelie wat hy verkondig het as iets wat geskied het “in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is”. 1 Pet. 1:12. Vergelyk in hierdie verband ook 2 Kor. 5:20 en 13:3. Petrus het die gesag wat Paulus se briewe gehad het erken en skriftelik bevestig. 2 Pet. 3:15 en 16. Die Pauliniese geskrifte (en dit sou ook geld vir ander Nuwe Testamentiese boeke) het nie net gegeld vir die gemeentes aan wie dit adresseer is nie, maar is ook bindend gemaak op ander gemeentes. Kol. 4:16; 1 Thes. 5:27. In Ef. 2:20 word die apostels op gelyke vlak met die Ou Testamentiese profete gestel waar dit sê dat die kerk “gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”. As die geskrifte van die Ou Testamentiese profete kanoniek is, dan ook dié van die apostels in die Nuwe Testamentiese bedeling.

Die Historiese Gesag van die Bybel

Die goddelike inspirasie van die Bybel kan ook aangedui word as ons let op die inhoud daarvan. Hier dink ons veral aan sy historiese gesag. Die Bybel verskaf sekere historiese feite wat geen ander boek dek nie. Hierdie feite strek van die begin van die menslike geslag, handel oor die ontstaan en geskiedenis van die volk Israel, vertel van sekere belangrike gebeure in die prehistoriese tyd (soos byvoorbeeld die sondvloed) en voorsien ons van sekere ou kultureel-historiese gegewens—baie van die feite waarvan later deur opgrawings en argeologiese studies bevestig is. En as ’n mens dink aan die persone wat dit te boek gestel het en die tyd waarin dit geskied het (soms baie eeue later en dit sonder enige rekord of betroubare verwysings) blyk dit duidelik dat so iets nie vir sulke mense moontlik was sonder goddelike inspirasie nie. Die mees kritiese ondersoek en die hewigste vyandige aanslae kon die historiese gesag van die Bybel geensins aftakel nie. Inteendeel, hulle wat in die lig van die Bybel gewandel het en hulle lewens daarvolgens ingerig het, het gevind dat dit die hoogste wysheid en die hoogste goed bevat. Die beginsels in die Bybel vervat, bring die beste in die mens en volkere na vore, terwyl afwykings daarvan of die verwerping van die Bybel tot ellende en chaos lei. Dit alles dui daarop dat die Bybel dit bevat wat bokant die mens uitreik en dat die Bybelskrywers dinge voorgehou het wat ver bokant hulle eie persoonlike en sedelike vermoëns strek. Juis daarom het dit so ’n onberekenbare groot invloed gehad as ’n vormende en herskeppende mag in die menslike kultuur en beskawing.