Die Evangelie van Judas

Die Evangelie van Judas: is dit ‘n Evangelie wat die leer van die Christelike kerk bedreig, of maar net nog een van die pseudepigrawe van die Christelike kerk? In hierdie geskrif word Judas as die held onder die apostels van ons Here Jesus voorgestel. Hoe moet ons dit beoordeel?

Dit wil voorkom of National Geographic die vooruitsig gestel het dat die onthulling van die “Evangelie van Judas” die Christendom tot in hul wortels sou skud, maar duidelik het dit nie die gewenste effek op die kerk gehad nie. Inteendeel is daar groot belangstelling enersyds en wye skeptisisme andersyds teenoor die “ontdekking” van die dokument. Die onthulling van die dokument deur die National Geographic Society is sekerlik meer positief en professioneel gedoen as die hantering van die Qumranmanuskripte in die 1950’s, maar vrae oor die onthulling kan steeds geopper word. As dit bloot gegaan het oor die onthulling van die inligting bevat in die evangelie van Judas, waarom sou National Geographic wag dat hulle dokumentêr eers gemaak word, en twee publikasies die lig kan sien saam met die onthulling van die inligting. Dit wil tog lyk of die finansiële waarde van die dokument ietwat swaarder geweeg het as die akademiese waarde.

Die evangelie van Judas was nooit onbekend in die Christelike kerk nie, maar die verrassing was egter dat die dokument wat almal gedink het verlore is, opgeduik het. Ek dink nie die kerk hoef te veel te maak van die publisiteit wat die evangelie van Judas die laaste paar dae gekry het nie. “Evangeliese” kodekse is tog nie vreemd in die Klassieke literatuur nie: daar is bykans 30 “pseudepigrawe”  waarvan die kerkvaders melding maak (dit is dokumente wat heelwat later as die Nuwe Testamentiese tyd gedateer kan word, maar onder ‘n skuilnaam (valse naam) geskryf is om wye aanvaarding in die kerk te probeer afdwing), waaronder die evangelies van Thomas (wat baie aanklank  vind by die nuwe hervormers), Petrus, Fillipus, Maria Magdalena (Magdala is die woord wat in die klassieke literatuur gebruik word), en dan nou die evangelie van Judas bekend is. Teenoor sommige van hierdie manuskripte was die kerkvaders meer gematig as teenoor ander, maar teenoor die meerderheid van die Deuterokanonieke evangelies het hulle beslis en duidelik die standpunt ingeneem dat dit nie aanvaarbaar is vir die kerk nie. Dit geld ook die “nuwe” evangelie van Judas.

Ons kan die evangelie van Judas dan maar rustig op hierdie vlak beoordeel: dit is baie interessant om kennis te neem van die inhoud, dit wys ons op die diversiteit van eerste eeuse Christelike strome en laat ons besef dat die Christendom in die eerste eeue verskillende strome en denkrigtings gehad het, waaronder die Gnostici, maar dit kan tog nie die geloofsfeite wat ons vanuit die Bybel aflei bevraagteken of bevestig nie.

Ek dink leraars behoort lidmate in te lig oor die bestaan van- en bespreking rondom die evangelie van Judas, dit sal nie ons Christelike fondament ondermyn as ons bly wys op die feit dat dit ‘n gnostiese geskrif is, wat nie die toets van die tyd deurstaan het nie.

Ten slotte dan die opmerking: die feit dat die evangelie van Judas in 180 nC deur Irenaeus genoem word maak dit ‘n outentieke geskrif en ‘n wonderlike vonds om te kan sê ons het hom, ons neem kennis, en ons bêre hom in ‘n museum. Dit sal wonderliker wees as ons dalk oor ‘n paar jaar kan hoor dat die tweede of die vierde Korintiërbrief gevind is. Dit sal waarskynlik ‘n groter opskudding in die kerk veroorsaak as die evangelie van Judas.