Vergeef ons ons skulde

Gedagtes vir gelowiges oor die vyfde bede van die Onse Vader, naamlik "Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe".

Lees: Matt. 6:12 en 18:21-35

“…en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” - Matt. 6:12

biddende hande

Soos brood die basiese behoefte van die liggaam is, is vergifnis die eerste behoefte van die siel. Ons moet nie van die volgorde van die twee bedes aflei dat Christus stoflike nood hoër ag as geestelike behoeftes nie. Hy leer ons alleen maar dat ons Hemelse Vader begrip daarvoor het dat ons mense van vlees en bloed is, en vir wie die behoeftes van die konkrete aardse lewe baie belangrik is. Dit mag egter nie die ander bedes verdring nie. ‘n Mens leef nie net van brood nie (Lk. 4:4).

Die behoefte aan vergifnis is die eerste gewaarwording van die sondaar in wie die nuwe lewe deur die wedergeboorte ontwaak. Hy besef dat hy skuldig voor God is, eintlik nog altyd ‘n rebel teen God was, en dat sy sondeskuld ontsaglike groot is. Dit is inderdaad die besef van die vergifnis van sonde deur die bloed van Christus wat ‘n gelowige die vrymoedigheid gee om tot God as Vader te nader. Vergifnis is die genadedaad waardeur God vir ‘n gelowige die deur na kindskap oopstoot.

Om hierdie rede ontvang die bede om vergifnis van sonde ‘n swaar aksent in Jesus se modelgebed. Soos wat God ons vergewe het, deur Christus, is ons ook nou veronderstel om mekaar te vergewe. Dit is vir die gelowige van die grootste belang dat die Here hierdie bede voortdurend sal verhoor. Wedergeboorte en bekering beteken immers nie sondeloosheid nie, en ‘n gelowige sal steeds maar weer om vergewing van sy sonde moet kom vra.

Met die versugting: “vergeef ons ons skulde”, bely ons dat ons aanspreeklik is vir al die slegte dinge in ons lewens, en dat ons nie self daarvoor kan betaal nie. Daarom moet hierdie bede sentraal staan in ons gebed, en mag dit nie afgewater word tot ‘n blote formaliteit aan die einde nie.

Daar kom nog ‘n paar woorde by dié bede wat dit in ‘n heel besondere lig plaas – en ook besondere eise aan die bidder stel. Die gebed lui naamlik dat God ons oortredinge moet vergewe soos ons ons skuldenaars vergewe. Vinnig geoordeel, lyk dit asof óns vergewensgesindheid hier die voorwaarde word vir Gód se vergifnis aan ons.

Ons moet egter onthou dat dit hier om vergewing by God, onse Vader, gaan. Dit is nie ons redding wat in gevaar is nie, maar ons verhouding tot ons Vader en sy ander kinders. Dit beteken dat ons gered word op grond van Christus, en nou uit dankbaarheid ook ander kan vergewe. Ons word gered, nie omdat ons ander hulle oortredinge vergewe nie, maar alleen omdat Christus ter wille van ons oortredinge gekruisig is. Ons verhouding tot ons Vader kan egter nie reg en suiwer wees, as ons nie bid: Vader, ek vergewe my skuldenaars, vergewe U my!

Die veronderstelling is dat ons inderdaad ons skuldenaars vergewe. Alleen in hierdie gesindheid van liefde teenoor ons naaste, kan ons gebed om skuldvergewing ook eg en waar wees.!

Vrae:

Hoeveel het die amptenaar wat na die koning gebring is, geskuld?

___________________________________________________________________

Wat het die koning aanvanklik beveel?

___________________________________________________________________

Nadat die man voor hom neergeval en hom gesoebat het?

___________________________________________________________________

Hoe het die man te werk gegaan met die mede-amptenaar wat hom ‘n paar rand geskuld het?

___________________________________________________________________

Wat beteken hierdie gelykenis vir jou?

___________________________________________________________________

Hoe verduidelik hierdie gelykenis die vyfde bede van die Onse Vader (Matt. 6:12) vir ons?

___________________________________________________________________